Inwoners maak self skoon
In ’n verwarrende en depressiewe tydperk is daar beslis plek vir goeie nuus.
Dit is die mening van inwoners in Merz-straat nadat ’n erf wat in ’n rommelwerf verander het onlangs deur ’n welwillende inwoner skoon gemaak is.
“Ons omgewing raak almal se lewens. Laat ons betrokke raak en die hand aan die ploeg slaan,” het Martie du Preez gesê.
Die leë erf op die hoek van Merz- en Van der Westhuizenstraat was besaai met rommel. Die bure in die omgewing het verskeie klagtes ingedien by die plaaslike munisipaliteit sonder enige sukses.
Op 20 Julie het ’n inwoner wie nie eers direkte buurman is nie en ook nie eienaar van die erf nie, uit eie inisiatief en uit eie fondse, tesame met twee werkers, ingespring om die erf skoon te maak, sowel as die gedeelte van die spruit wat deur die erf loop.

“Ons ander inwoners in die omgewing is die welwillende man en werkers baie dank verskuldig vir sy harde werk en inisiatief wat hy aan die dag gelê het. As ons nog trots is op ons omgewing en ons dorp, dan is daar nog hoop.
Almal in die omgewing het kennis geneem van die rommelstrooiing, maar niemand het iets gedoen nie, net gesug en anderpad gekyk. Die erf is nou skoon en netjies en dit laat ons goed voel om te weet daar is nog mense wat omgee vir hul omgewing,” het Du Preez genoem.



