Helpende Hand skenk lemoene
Helpende Hand se Heidelberg tak het onlangs talle lemoene aan die Suikerbos Aftree-oord se inwoners geskenk.
Solidariteit Helpende Hand se Heidelberg tak het onlangs ongeveer een ton lemoene gekry vir verspreiding.
“Helpende Hand Oosrand se streek organiseerder, Mariolette Vorster, het ons geskakel met ’n skenking van lemoene,” het Frik van Niekerk, voorsitter van die tak, gesê.
Die tak se bestuur het besluit dat die lemoene tussen plaaslike organisasies versprei moet word, en ten minste helfte van die lemoen donasie aan die Suikerbos Aftree-oord geskenk.
“Die Heidelberg Aanbiddings Sentrum, met pastoor Gert van Rooyen, het hande gevat met Helpende Hand om armoede te bestry,” het van Niekerk vertel.
“Die skenking het die kerk in staat gestel om behoeftiges in hulle gemeente te help deur die lemoene onder hulle te versprei.
“Die ander helfte van die skenking het aan die Suikerbos Aftree-oord se inwoners, spesifiek die Silwer Akker wat ’n versorgings eenheid is, gegaan.”

Aangesien die aftree-oord gesluit is weens die inperking, het Helpende Hand dit as hul plig gesien om die vars vrugte met vollop vitamine C aan die bejaardes te gee.
“Marlene Walkden, die maatskaplike werker by Suikerbos Aftree-oord, het dadelik ’n bakkie gestuur en die lemoene verdeel by die aftree-oord,” het van Niekerk gesê.
“Ons is dankbaar vir die Oosrand-tak se donasie wat ons in staat gestel het om die gemeenskap, en veral die Suikerbos Aftree-oord, te help.
“Helpende Hand Heidelberg werk hard om Afrikaans-sprekende behoeftiges in ons dorp te help, maar ons kan dit nie doen sonder die gemeenskap se hulp nie.
“Deur net ’n minimum van R50 per maand per debiet order kan die gemeenskap ’n ondersteuner word. As jy enige iets het wat in jou pad staan, en nog bruikbaar is, skenk dit asseblief.

“Helpende Hand Heidelberg pleit met die gemeenskap om deel te word van ons span en behoeftiges te help. Kerke kan ons ook kontak sodat ons kan bydra om die behoeftiges in hul gemeentes te help,” het van Niekerk ter afsluiting gesê.
Van Niekerk kan gekontak word by 079 220 5555 of vanniekerkfrik1@gmail.com



