Hervormde Kerk ontvang blou erfenisplaatjie
Die Hervormde Kerk van Heidelberg is 88 jaar oud en het op 23 Julie sy blou erfenisplaatjie ontvang ter ere aan die ryk geskiedenis en bestaan van die kerk en die kerkgebou.

Met die stigiting van die Hervormde Gemeente Pretoria in 1855 het Suikerbosrand ’n wyk van die gemeente geword. In Julie 1864 het die kerkraad van Pretoria ’n versoek van Suikerbosrand ontvang om ’n kerkgebou op te rig.
Op 17 Oktober 1864 is die hoeksteen van hierdie eerste kerkgebou gelê. Dit was ’n paar maande voor die amptelike stigting van die dorp Heidelberg.

Op 5 Oktober 1865 het die Hervormde Kerkaad die transport van sy kerkplein ontvang. Die oorspronklike kruisvormige kerkgebou het aan die ooste van die huidige NG kerkgebou (Klipkerk) gestaan.
Die eerste kerkvierings in die nuwe kerkgebou het op 30 en 31 Desember 1865 plaasgevind en al die dienste was deur konsulent Ds AJ Begemann van Pretoria gehou. Die selfstandige gemeente Suikerbosrand, soos die gemeente oorspronklik genoem was, het op 27 Julie 1865 van Pretoria afgestig. Die gemeente het toe reeds 612 lidmate sterk gestaan.
Ds NJ van Warmelo was in 1868 as die eerste predikant beroep en bevestig. Hy was tot in 1885 predikant van die gemeente.
Gedurende 1932 was die gemeente van Heidelberg een van die sterkste gemeentes van die Hervormde Kerk. Die gemeente het op daardie stadium uit 865 lidmate bestaan met ’n kerkraad van 35 man.

Ds AJG Oosthuizen, wat toe die predikant was, het tydens ’n kerkraadsvergadering op 5 Maart 1932 voorgestel dat ’n nuwe kerk gebou moet word wat 600 mense kan akkommodeer. Op hierdie stadium was kerk gehou in die huidige kerksaal wat in 1889 gebou was.
Die nuwe kerkgebou met ameublement sou sowat £5 000 gekos het. Die kerk het £2 000 in die bank gehad, maar Oosthuizen het gemeen dat hulle die geld maklik bymekaar sou maak.
Dit was in ’n sekere sin ’n gewaagde voorstel, want geld en stoflike middele was skaars omdat die Afrikaner in ’n ekonomiese worstelstryd was en dit met baie lidmate swaar gegaan het. Oosthuizen het egter die gemeente opgeroep tot opoffering en toewyding.
“Met God se hulp is niks onmoontlik nie,” het Oosthuizen gesê.Hierdie tweede kerkgebou is in 1933 ingewy en is vandag 88 jaar oud. Die kerkgebou het ook nou sy blou plaatjie vir erfenis ontvang. Die plaatjie is deur Arrie en Rita Vorster geborg wat jarelange gemeentelede is.
