Lupus lyer moet weer leer loop
Jakkie Pretorius (50) se lewe is omver geruk nadat hy in Februarie met Lupus gediagnoseer was.
Sy eerste kennismaking met die siekte was toe sy ma Christina gediagnoseer was en haar stryd teen die siekte op ‘n jong ouderdom verloor het.
Jakkie is in Klerksdorp gebore en woon sedert Februarie 2015 in Heidelberg. Jakkie het sy eie besigheid gehad en mense van Heidelberg sal hom ken as deel van die GPF waarby hy ook betrokke was.
Jakkie, wat kort na sy 50ste verjaarsdag gedagnoseer was, het vier maande in die hospitaal deurgebring. Jakkie sterk tans tuis aan, maar weens swak spiere moet hy weer leer loop en hy het ook baie dringend ‘n slaap apneemasjien nodig aangesien hy ophou asem haal in sy slaap.
Lupus is ‘n siekte wat voorkom as die liggaam se immuunstelsel sy eie weefsels en organe aanval (outo-immuun siekte). Ontsteking veroorsaak deur lupus kan baie verskillende liggaamsisteme beïnvloed – insluitend gewrigte, vel, niere, bloedselle, brein, hart en longe.
Sommige mense word gebore met die neiging om lupus te ontwikkel, wat veroorsaak kan word deur infeksies, sekere middels of selfs sonlig. Alhoewel daar geen geneesmiddel vir lupus is nie, kan behandelings simptome help.
Vandat Jakkie terug by die huis is, sukkel hy met sy daaglikse roetine en het sedert sy diagnose ook ander gesondheidsrisiko’s naamlik nierversaking, suurstoftekort en rumatoïede artritis opgedoen.
Jakkie is getroud met Amanda wat by die Noordelike Konferensie (SDA) in Heidelberg werk en hulle het twee kinders, Wieland en Jènandi.
“Alhoewel hy sy vermoë om te loop verloor het en nie meer die dinge wat hy so graag gedoen het, soos visvang, kan doen nie, het hy ‘n veggees,” het Nadine Zowitsky, ‘n familie vriendin vertel.

Jakkie kan nie werk soos voorheen nie en die ekstra mediese onkoste wat nie deur die gesin se mediese fonds gedek word nie, sit ekstra bekommernis op die gesin.
“Jakkie moet daaglikse mediese aandag kry en oefening om sy krag terug te kry. Aangesien hy nie al die medikasie wat nodig is kan bekostig nie, verkeer hy daagliks in erge pyn,” het Nadine gesê en bygevoeg dat hy nog ‘n baie lang pad na genesing het aangesien hy nog twee operaises moet ondergaan om sy lewe te vergemaklik.
“Ek is in die geveg van my lewe, en ek sal wen,” het Jakkie gesê.
Nadine het Life Change Pledge, ‘n nie-winsgewende oranisasie, benader vir hulp vir Jakkie en maak ook ‘n beroep op die gemeenskap vir hulp vir fondse, om onder andere die masjien aan te koop.
Alle fondse wat ingesamel word gaan direk aan Jakkie.
“Ons kan doktersverslae en kwotasies verskaf indien enigiemand dit verlang wat tot hulp wil kom. Jakkie het ‘n veggees en dit is ook hoe sy vriende en familie hom beskryf,” het Nadine gesê en afgesluit dat Jakkie daarna uitsien om weer sterk genoeg te wees om saam met sy gesin die buitelewe te geniet.
Vir meer inligting kan Nadine Zowitsky by 079 622 7767 gekontak word.
Die gemeenskap kan ook bydraes maak vir Jakkie by Life Changing Pledge NPC, rekeningnommer 62858156245, takkode 250655, verwysing Jakkie Pretorius.



