Geliefde GPF-lid sterf weens Covid
Annette Reyneke (65), ’n lid van Heidelberg GPF, het op 26 Julie weens Covid-19 gesterf.
“Vandat ek by GPF aangesluit het, was Annette betrokke. Sy was ’n aangename, vriendelike persoon met ’n hart vir haar gemeenskap,” het Ounie Coetzee, GPF lid, gesê.
Alhoewel Annette vir die laaste twee jaar haar pligte weens gesondheidsredes afgeskaal het, was sy altyd bereid om te help.
“Sy het altyd tyd gemaak vir haar medemens,” het Ounie vertel.
Sy is as ’n staatmaker beskryf wat insidente op ’n empatieke tog professionele manier kon aanpak en hanteer.
Suzan Basson van Crime Stop Sekuriteitsdienste onthou Annette as ’n vrou van min woorde, maar van baie begrip en handeling. Saam met haar man het sy vir jare die Hotel Alfa 2 gemeenskap gedien op die GPF beheerkamerstelstel.
“Sy was ’n vrou sonder aanstellerigheid en het ten midde van haar eie gebrek en gesondheid steeds die leisels geneem en gedien. Haar begrip en liefde vir haar medemens en uitleef van God se Woord oor naasteliefde sal ’n mens moeilik kan ewenaar,” het Suzan vertel.
“Ons sal die dienaar mis. Ons span word kleiner. Mag daar meer dienaars uit die blokke kom en meer dienaars vir hulle naaste omgee soos Annette. Mag ons wat agter bly haar voorbeeld volg en in nederigheid aanhou dien.”



