Geliefde skoolhoof tree af na vier dekades
Na sowat 42 jaar en sewe maande in die onderwys, het Laerskool Tini Vorster se skoolhoof op 30 Julie sy laaste dag as skoolhoof geniet.
Bennie Holm’ner (65) het die skool vir 28 jaar gedien, waarvan hy vir 26 jaar hoof was.
“Dit was ‘n voorreg om vir so lank Laerskool Tini Vorster se hoof te kon wees,” vertel Holm’ner aan die HERAUT. “Die laaste 28 jaar wat ek hier was het in ‘n oogwink verby gegaan.”
Holm’ner se loopbaan in die onderwys het begin toe hy by die Pretoria Onderwys Kollege vanaf 1975 tot 1978 gestudeer het.
“Die besluit om onderwys te gaan studeer was natuurlik vir my,” het Holm’ner verduidelik.
“My liefde vir kinders en die passie wat ek het om deel te wees van hul opvoeding het my aangemoedig om deel te word van die beroep.
“Na my studies was ek eers in die weermag vir sowat twee jaar, voordat ek by Laerskool Selection Park my loopbaan amptelik begin het.”
Holm’ner het op 6 Oktober 1993 as adjunkhoof by Laerskool Tini Vorster begin, waarna hy twee jaar later tot hoof bevorder is.

“Onderwys was nog altyd vir my ‘n roeping en nie ‘n werk nie,” brei Holm’ner uit.
“Daarom was ek ook baie vakansies betrokke by die skool uit die liefde vir die saak.
“Ek het altyd vir my personeel voor die begin van ‘n nuwe kwartaal gesê: Ons moet nie in ons wegspringblokke struikel nie, maar gereed wees vir die wedloop, en ek glo dat dit altyd onthou sal word.”
Holm’ner het sy opregte dank en waardering teenoor elke ouer en leerder uitgespreek vir al die jare se ondersteuning, lojaliteit en gebede.
“Elkeen was deel van die skool se fondasie wat gelê is,” meen hy.
“Sonder die ouers sou ons nie ons skool kon uitbou tot waar ons vandag is nie, en soos ons skool se leuse sê; saamstaan en bou.”
Weens die skool se huidige regulasies rondom Covid-19, kon Holm’ner nie die leerders in die skoolsaal toespreek en groet nie, maar het wel by elke klas in die skool ‘n draai gemaak om die leerders persoonlik te groet.
“Die leerlinge was ‘n groot deel van my lewe wat ek baie gaan mis en baie na sal verlang,” vertel Holm’ner.
“Ek is dankbaar vir elke pad wat ek gekruis het, waar dit okal was, elke vriendelike gesiggie en groet sal my altyd bybly.

“Ek het ook natuurlik baie groot dank en waardering vir elke personeellid wat met die hand uitgesoek is om op ons personeel te dien, dankie vir julle harde werk en pligsgetroue mentaliteit wat nooit huiwer om die ekstra myl te stap nie.
“Ek gaan elkeen van julle baie mis, want elkeen van julle is uniek.”
Holm’ner sien uit daarna om sy nuwe vrye tyd wat gepaard gaan met sy aftrede met vakansies te geniet, en hoop om meer van Suid Afrika en Namibië te gaan verken.
“Dit is hartseer om te groet na soveel jare, maar ek sien ook uit na die volgende hoofstuk wat vir my voorlê,” sluit Holm’ner af.
“Ek groet dan vir oulaas met al die liefde en warmte in my hart, mag die genade van ons Hemelse Vader met elkeen van julle wees.”



