Projek geloots om gesinne in nood te help
Ons Winkel is geleë te Pretoriusstraat 50, Heidelberg Forum, bokant die China Shop in die sentrum oorkant Laer Volkskool.
In samewerking met AfriForum het Solidariteit Helpende Hand ’n projek van stapel gestuur om gesinne in Natal wat deur die onrusgeteisterde gebied geraak is, en wat tans in nood verkeer, te help met ’n kospakkie.
AfriForum het gereël dat kospakkies by Conqueror Karavane in Heidelberg afgelaai word.
“Ons bedank Conqueror Karavane dat hulle bereid was om deel van die projek te wees,” het Frik van Niekerk, voorsitter van Helpende Hand se Heidelberg-tak, gesê.
“Gesamenlik het ons ongeveer R8 000 se kosvoorraad. Ons beplan om die projek verder te neem en vra dus die gemeenskap om asseblief betrokke te wees.
“Solidatiteit se Helpende Hand Oosrand-tak het onlangs ’n skenking van kos, met ’n waarde van sowat R5 000, aan die Heidelberg-tak oorhandig vir die tak om te skenk.”
Van Niekerk het op 27 Junie die skenking aan Thinus de Bruyn van Conqueror Karavane oorhandig.
Die eerste besending van kos voorraad is alreeds na KwaZulu-Natal gestuur, maar Helpende Hand Heidelberg poog om die volgende skenking te vergroot met die gemeenskap se hulp.
“Heidelberg se bydrae sal dan gesamenlik met Helpende Hand Oosrand-streek se verdere bydrae in September per massa vrag na Natal vervoer word,” het Van Niekerk verder gesê.
“Ek wys uit aan enige potensiële skenkers dat die skenkings per assessering beheer sal word in Natal, volgens die beheermaatreëls van Helpende Hand.
“Ons vra dat die gemeenskap hulle harte sal oopmaak en pakkies sal voorberei.
“Dit kan by Helpende Hand Ons Winkel in Heidelberg afgelewer word.”
Die volgende kos en ander donasies word aangevra: mieliemeel, koekmeel, rys, blikkieskos soos gebakte bone in tamatiesous, vis, weense worsies en boeliebeef, hawermout, kookolie, gis, langlewemelk/poeier, sout, tee, suiker, energiestafies, toiletpapier, jik/ontsmettingsmiddels, seep en babadoeke.
Ons Winkel is geleë te Pretoriusstraat 50, Heidelberg Forum, bokant die China Shop in die sentrum oorkant Laer Volkskool.
Kontak Hanté du Toit by 081 276 9143 of Van Niekerk per Whatsapp by 079 220 5555.



