Local newsNewsSchools

Hoër Volkskool se ryk geskiedenis sorg dat hul erfenisplaatjie ontvang

Hoër Volkskool bestaan al vir afgelope 106 jaar.

Die skool aan die hange van die Suikerbosrand is ‘n skool waar die ryke tradisies van die verlede gekoester word sonder om te vergeet om toekomsgerig te wees. Hier bou jongmense ‘n pragtige toekoms, om as Volkies hulle plekke in die land vol te kan staan.

Hoër Volkskool het op 13 Augustus hul verering vir erfenis ontvang waar die blou erfenis plaatjie opgerig is.  Die skool is ryk aan geskiedenis en spog met nostalgiese items soos 1918 se jaarboek wat slegs een van die vele items is wat bewaar word vir erfenis.

Hoër Volkskool het op 13 Augustus hul blou erfenisplaatjie ontvang wat deur Joe en Angela Kosterman van Master Maths geborg is.

Een van die gevolge van die Anglo-Boereoorlog, wat in 1902 beëindig was,  was baie weeskinders (ook in Heidelberg-distrik). Die weeskinders was nie opgeneem in een van die twee bestaande skole op Heidelberg nie, want beide was onder Engelse beheer (regeringskole).

Ds. A.J Louw wat toe leeraar was by die Klipkerk het die  kelderkamer van die  Klipkerk (ook bekend as die  Grot van Abdullam) as klaskamer beskikbaar gestel met Mejj. Anna Basson en Katie Human as leerkragte. 

Verset teen die Engelse se onderwysstelsel het toegeneem  en die Christelike-Nasionale Onderwysbeweging (CNO) skole was gestig.  In Heidelberg was die CNO skool gestig in Julie 1903 met die naam ‘Volkskool’ en mnr. T.A Dönges as hoof.

Benewens die kelderkamer was die Van Belkum-saal ook as klaskamer gebruik.  Die toename in leerders het ‘n skoolgebou genoodsaaklik. Dit was moontlik gemaak deur die skenking van geld en ‘n groot erf deur die broers D. en W. Bezuidenhout en hul swaer C. Meyer.

Die amptelike opening van Hoër Volkskool in 1915.

Hoër Volkskool Heidelberg is amptelik in 1915 geopen en op 8 September 1919 is die hoeksteen deur mnr A.G Robertson, die administrateur van die Transvaal gelê.  Mr. A.J (‘Meester’) Louw was as die eerste hoof aangestel.  Die skoolgebou is amptelik op 3 Mei 1922 geopen.

Die eerste personeel van Hoër Volkskool.

Met groot hartseer was die ou geboue van die drie koshuise: Transvalia, Concordia en Excelsior gesloop toe die provinsiale regering die administrasie van die skool oorgeneem het.

Die Excelsior Koshuis.

In 1922 is die Administrateurbeker vir rugby ingestel wat vir die eerste maal in 1925 deur Hoër Volkskool verower is en in die jare daarna nog ses maal.  Hoër Volkskool was ook die eerste tuiste van die Administrateurbeker vir Krieket (1928) en daarna is die beker nog vir talle jare verower.

Die eerste rugbyspan van 1916.

‘n Hoogtepunt was ook  Hoër Volkskool se eeufeesvieringe in 2015 toe oud-Volkies tydens ‘n reusebyeenkoms saamgekuier het en afgeskop het met ‘n optog van leerders, onderwysers en ouers deur die strate van Heidelberg. Die huidige hoof Sias Botha, wat sedert November 2020 aan stuur is het gesê:

“Ons is trots op ons skool se erfenis en dit is belangrik om dit vir die toekoms te bewaar.”

Botha het ook met groot opgewondeheid vertel van die skool se opknappingswerk by die vooraansig en die twee baniere wat onthul was.

“Om ons erfenis by die skool te bewaar maak ons ‘n punt daarvan om ons skool deurlopend op te knap,” het Botha gesê.

Na die opknapping van die swembad, is Volkskool deur ‘n duikakademie genader wat in die somer gaan afskop.  Botha het ook van die geleentheid gebruik gemaak om Graad 12’s wat 25 Augustus met rekordeksamen begin sterkte toe te wens. Joe en Angela Kosterman van Master Maths wat die erfenisplaatjie geborg het, is vir die afgelope 18 jaar by die skool betrokke en ook lede van die Heidelberg Erfenis Organisasie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button