Ligte, kamera, aksie vir Volkies leerder
Markus Everson se droom van akteur word, is ’n werklikheid nadat hy gekeur is om in ’n kortfilm te speel wat in Desember verfilm sal word en vroeg in volgende jaar op Kyknet uitgesaai sal word.
“Markus het van kleins af karakters in flieks nageboots en ons vir ure lank vermaak,” het sy ma, Chantelle, vertel.
Markus, ‘n Graad Ses leerder by Laer Volkskool, het te hore gekom van ABS Produksies wat opsoek is na toneelspelers met talent wat vir ’n reeks kortfilms gebruik kan word en het nie versuim om in te skryf nie.
Sy talent is raakgesien nadat hy ’n monoloog moes doen wat hy vir ABS Produksies moes instuur. Op 14 Augustus was hy genooi vir ’n oudisie by Die Blou Hond-teater in Pretoria.

Kort na die oudisie het Chantelle ’n boodskap van Anthonie Bougas, eienaar van ABS Produksies, ontvang wat bevestig het dat Markus se oudisie suksesvol was en hy gekies is om deel te wees van die speeltoneel.
Markus se stokperdjies strek van klavier en kitaar speel tot sing, karate, hip-hop dans, jag en selfs boer met slange en beeste, maar sy grootste drome is om ’n veearts of ’n beroemde akteur in Hollywood te word.
“Ons is baie trots op sy prestasie en ondersteun sy droom,” het Chantelle gesê.
Markus moet vir die volgende vier maande werkswinkels en aanlynklasse bywoon wat hom sal voorberei vir die verfilming in Desember.

Hy sal ook die geleentheid hê om gementor te word deur bekende akteurs, waaronder Desire Gardner, Izak Davel en Vilje Maritz, wat ook saam in die kort film sal speel.
Dit sal Markus se eerste produksie en eerste keer op televisie wees.




