Covid eis geliefde apteker van Heidelberg
Kobus Fourie is geken aan sy vriendelikheid en hulpvaardigheid as apteker van Bambi Apteek.
Kobus was op 10 Julie as gevolg van Covid-19 in die intensiewesorgeenheid opgeneem en is op 12 Julie oorlede. Hy sou op 23 Augustus 74 geword het. Hy is beskryf as ’n man met integriteit, ’n mense-mens met ’n groot hart vir die gemeenskap, sy vriende; hy het vir sy familie geleef.
Kobus is op 23 Augustus 1947 in Standerton gebore en het in Vrede groot geword. Hy het BSc Pharm aan die Universiteit van Potchefstroom studeer en is met Ellen Fourie (née Botha), ’n onderwyseres, in 1971 getroud. Vyf kinders is uit hierdie huwelik gebore.
Kobus en Ellen was oupa en ouma vir sewe kleinkinders.
Die egpaar het Bambi Apteek in Oktober 1973 in Heidelberg begin en die apteek sal sy 48ste verjaarsdag hierdie jaar vier.
Kobus het ’n vol lewe gelei en ’n groot impak op die gemeenskap as apteker, en saam met Ellen as burgemeesterspaar, gehad. Kobus was ’n vaderfiguur vir so baie mense en familie, vriende en kliënte kon met ’n geruste hart raad by Kobus vra.
“Veral wanneer ons as kinders vir pa gebel het om net vinnig iets te hoor of om seker te maak dat die regte besluit oor ’n saak gemaak gaan word. Ons mis dit al klaar, ons mis dit om sy stem te hoor,” het sy seun, Fanie Fourie, vertel.
Kobus en Ellen was vir 45 jaar saam en 40 jaar getroud toe Ellen in Desember 2011 oorlede is.

Kobus is daarna met Mariaan van Vollenstee in 2013 getroud en het so nog kinders en kleinkinders ryker geword.
Kobus was ’n pa wat met God as riglyn sy gesin grootgemaak het. Sy kinders het geweet dat hulle altyd veilig, geliefd en ondersteun was. Kobus was ’n buitelug-mens en was lief vir jag. Hy het elke jaar ’n manne-week vir hom, sy seuns, skoonseuns en swaer gereël.
Hy was lief vir die plaas op Dullstroom en het van gholf gehou, wat hy graag saam met sy kinders gespeel het. ’n Hoogtepunt was gholf saam met sy skoonseun op St Andrews in Scotland.
Kobus se kinders bevestig dat dit lekker en ’n voorreg was om hulle suksesse, hartseer en bekommernisse met hulle pa te kon deel. Almal mis daardie lekker uit-sy-maag-lag wat mens van so ver af kon hoor.
Kobus was en is ’n permanente deel van sy familie se lewe waarvan die leemte nooit weer gevul sal word nie.
“Ons is en was baie lief vir Pappa. Gelukkige verjaarsdag, al is Pappa nie meer hier nie,” het Fanie namens die familie gesê.
Die familie bedank die Heidelberg gemeenskap en omgewing, asook die volgehoue ondersteuning aan Bambi Apteek.




