Local newsNews

Liz se paleisie in vlamme verwoes

Op 13 Augustus moes Liz Potgieter (84) toekyk hoe haar ‘paleisie’, soos sy dit gedoop het, in vlamme verwoes word.

Liz was die eerste inwoner van Gemoedsrus Aftree-oord, waar sy sedert 2008 gewoon het.

Liz en haar man was 60 jaar getroud; hy is 10 maande nadat hulle by Gemoedsrus ingetrek het oorlede.

“Ek het alles wat ons saam opgebou het verloor,” het Liz vertel.

Die vuur het in die hoofslaapkamer ontstaan terwyl Liz in die sitkamer televisie gekyk het.

“Ek het ’n klap geluid gehoor en toe is die DStv en die TV dood,” het Liz vertel.

Liz Potgieter se huis by Gemoedsrus Aftree-oord wat in vlamme verwoes is op 13 Augustus.

Toe Liz wou kyk wat fout is, het sy die vlamme in haar slaapkamer gesien.

“Ek het probeer om die vlamme te blus, maar my nagklere het reeds begin brand,” het Liz vertel.
Sy het die vlamme op haar nagklere met haar hande geslaan en uit gehardloop terwyl sy geskree het vir hulp.

Chris Prinsloo, Liz se buurman, het vertel: “Ek het in haar huis ingehardloop en kon haar persoonlike items, soos haar identiteitsdokument, red en het ook ’n gasbottel gewaar wat ek uitgedra het.”

Nico du Toit, ook een van die inwoners, het Liz gehelp om weg te kom van die vlamme.

Danie Venter, voorsitter van die aftree-oord, het vertel: “Die inwoners het almal tot hulp gesnel en probeer om die vlamme onder beheer te kry. Die nooddienste was ook gelukkig gou op die toneel.”

Wat oor is van Liz se sitkamer nadat ‘n vuur wat in die slaapkamer ontstaan het.

Hy het die inwoners geaam om versigtig te wees, veral in die koue maande, met elektriese items en verwarmers aangesien ’n vuur baie gou kan ontstaan en verwoesting kan bring.

Liz het ligte brandwonde op haar hande ogpedoen en is nog getraumatiseer. Sy het al haar klere in die brand verloor, asook huishoudelike items en meubels.

“My hart is bitterseer oor al my besittings wat verwoes is. Ek het baie van my eie klere gemaak en het niks van dit oor nie,” het sy vertel.“Ek is dankbaar vir die Here se beskerming en vir al die inwoners wat kom help het. My dogter sien om na my en ek woon vir eers by haar.”

Meeste van Liz se huishoudelike items is in die brand vernietig.

Volgens die Fire Protection Association of Southern Africa (FPASA) se veiligheidsraad op hul Facebook-blad is dit prioriteit dat wanneer daar ’n vuur ontstaan jy moet wegkom van die vlamme en nie probeer om persoonlike items te red nie.

Alhoewel Liz net ligte beserings opgedoen het, is die trauma van 60 jaar se herhinneringe wat verwoes is, net so erg.

HERAUT doen ’n beroep op die gemeenskap vir hulp of bydraes om weer die inhoud van Liz se palysie stukkie vir stukkie te help opbou.

Enige persoon wat ’n bydrae wil maak kan Liz se dogter, Alta Janse van Rensburg, by 083 776 4476 kontak.

Die bordjie buite Liz se huis is een van die min items wat staande gebly het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button