Die ‘Beast’ van trekkers in Heidelberg bekendgestel
Die ‘Beast’ van trekkers is op 31 Augustus in Heidelberg bekendgestel.
Die indrukwekkende monster trekkers met innoverende tegnologie het die gronde van De Peacan Valley in Heidelberg se ontvangsarea behoorlik rooi geverf.
Jacques Taylor, besturende direkteur van Case IH, het die bekendstelling geopen met ’n kort video wat die vernuf van die nuwe reeks beklemtoon.
Die Magnum AFS Connect is die sewende generaise van Case IH se vlagskip trekkers en kom drie dekades nadat die eerste Magnum-trekker aan boere onthul is. AFS Connect® is Case IH se telematiese oplossing, wat nou ’n integrale deel van die nuwe Magnum self is. Daarom is AFS Connect® deel van die trekker se naam.
“Die nuwe Magnum-en-Steiger ontwikkeling het begin toe ons ondersoek wou instel na wat gebruikers vandag in hierdie klas en grootte trekker soek, en tyd saam met boere oor die hele wêreld spandeer het vir ’n beter begrip van hul behoeftes en vereistes,” het Aron Oechsner, Case IH globale produkbestuurder vir Magnum, gesê.
Die oefening wat personeel, vervaardigings-, bemarkings- en gehaltestandaarde behels het, het regoor die wêreld gestrek.
“Hieruit het ons konsepte getoets, sowel in die 3D-ontwerpfasiliteit op ons Burr Ridge-navorsings- en ontwikkelingsterrein in Illinois, VSA, asook in die veld. Die resultaat is ’n nuwe reeks wat die breë behoeftes van boere in daardie streke erken, en hoewel dit voldoen aan die vereistes van die innoverende, vooruitdenkende boere wat die potensiaal van nuwe presisie-tegnologie benut, werk dit op ’n gemaklike manier vir diegene wat minder tegnologies ingestel is,” het hy gesê.

Tyson Zunckel van Zunckel Boerdery in Bergville het die bekendstelling bygewoon en was ’n kans gegun om sy ondervinding met die ‘Beast’ te beskryf.
Hy het gesê as ’n millenium boer maak hy baie staat op tegnologie, en die Magnum AFS Connect is beslis in lyn met boerdery van die toekoms.
“Die inligting wat deur die slimtablet in die kajuit verwerk word, help om meer produktief te wees en vinniger besluite te maak,” het Zunckel vertel.
Volgens Chimene de Villiers, hoof van bemarking en kommunikasie vir Case IH, koppel die nuwe reeks trekkers direk aan hulle visie van die boer eerste sit, ontwerp met die gebruiker as middelpunt en ‘boots in the ground’, en dit maak van die nuwe reeks trekkers ’n volledige oplossing vir die hedendaagse en innoverende boere.




