Wenke om jou tuin op te kikker
Lentedag word op 1 September gevier en is ‘n goeie tyd van die jaar om weer uit te kom en tyd in die tuin te spandeer.
HERAUT gaan die volgende vier weke tuinwenke van inwoners met ons lesers deel. Die week se wenke is van Thenicia Schultz. Sy geniet die skepping van iets uit niks maak en het onlangs haar besigheid, Papilon Gardens begin, waar sy tuine uitlê.
“Lente is hier en ons tuine kort liefde sodat dit kan floreer in die somer. Dit is belangrik dat die dooie takkies en blomme gesnoei word om plek te maak vir nuwe groei. Dit stimuleer ook die plant om dan ‘n sterker wortelstelsel op te bou.”
“Dan is dit ook noodsaaklik om jou gras en plante te bemes (fertilise). Voeding vir jou plante is belangrik want die kunsmis speel ‘n belangrike rol in die algehele groei en opbrengs van plante.”
“Die vorige plante wat in die grond gegroei het, het al die voedingstowwe en minerale in die grond opgeneem sodat daar min vir toekomstige gewasse gelaat is en juis daarom help voeding vir jou nuwe plante ook vir optimale groei.”

“Ek sal Protek se Flower Power fertiliser voorstel vir plante/blomme en Protek se Gro Green fertiliser vir jou gras. Spit maar daardie klipharde beddings ook ‘n bietjie. Deur die grond los te maak, help dit dat die plante spasie kry om makliker te groei en vir wortels om te groei.”




