HERAUT het in Augustus 2019 berig van Andries Swanepoel (58) wie se liggaam die oggend van 26 Augustus 2019 dood in sy huis in AG Visserstraat, Rensburg, aangetref was. Sy lewensmaat, haar seun uit ’n vorige verhouding en nog ’n man was vir sy moord aangekeer.
Swanepoel se broer het vertel hoe hulle sy broer se kop ingeslaan en hom verniel het. Die vier betrokkenes het blykbaar die aand van sy moord saam gekuier, ’n argument het ontstaan en Swanepoel was aangerand.
Voormalige polisie woordvoerder kapt Tshilate het verneem dat Swanepoel met ’n harde voorwerp aangerand was en het vertel hoe Swanepoel se lewelose liggaam na ’n kamer in die huis gesleep en daar gelaat was. Swanepoel het behalwe vir letsels oor sy hele lyf ook ’n groot gat aan sy kop opgedoen.
Swanepoel se familie het sy 44-jarige lewensmaat as ’n moeilikheidmaker beskryf en het ook vertel dat hulle gesukkel het om die wrede manier waarop Swanepoel vermoor was te verwerk.
James Robert Randall (24) en Clifford Basson (67) is saam met Alice Graham (44) vir die moord in hegtenis geneem.
Graham het in Desember 2019 terwyl sy in aanhouding was in die Johannesburgse Vroue Korrektiewe Sentrum (algemeen bekend as Sun City Prison) gesterf nadat sy ’n oordosis pille geneem het.
Op 17 Julie is Randall en Basson in die Pretoria Hooggeregshof skuldig bevind aan moord en regsverydeling.
Basson is ook skuldig bevind aan seksuele misdryf met ’n minderjarige en is effektief 23 jaar (13 jaar vir moord en10 jaar vir seksuele misdryf) tronkstraf opgelê. Hy is ook drie jaar vir regsverydeling opgelê.
Hy was ten tye van die moord op parool vir ’n vorige skuldigbevinding vir ’n seksuele misdryf, waarvoor hy tronkstraf uitgedien het.
Randall is 12 jaar tronkstraf vir die moord opgelê en drie jaar vir regsverydeling.
Kol Phiwe Ndwandwe, Heidelberg Polisiestasie bevelvoerder, het Maluleke vir bedank vir sy toegewydheid en geluk gewens met sy goeie speurwerk en deeglike ondersoek.



