Local newsNews

Crabapple Cottage leef voort en ontvang erfenisplaatjie

Theunis en Lélanie Rooseboom het in 2019 na ’n besoek aan ’n kwekery ’n ‘te koop’ bordjie gewaar voor die huis te Jordaanstraat 30.

Na slegs een besigtiging het hulle besluit om die eiendom, wat met ’n krabappelboom die voorsig verfraai, te koop, min wetend van die erfenis en geskiedenis van die vorige eienaar.

Audrey Elizabeth Postma se passie vir oudhede en ou geboue was die rede dat sy en haar gesin in 1971 na Heidelberg verhuis en die ou Goodwin-huis gekoop het.

Crabapple Cottage, soos wat Audrey dit gedoop het, se oorsprong was ’n skuur wat deel uitgemaak het van die Goodwin eiendomme wat oor die hele blok gestrek het.

Die ou skuur wat steen vir steen geskuif is en omskep is in Crabapple Cottage.

Dit was oorspronklik drie erwe vanaf die huidige posisie geleë en te danke aan Audrey se liefde vir ou geboue, was die ou, vervalle skuur van verwoesting gered. Sy het die eienaarskap van die struktuur vir slegs R50 bekom en wou die struktuur skuif en heroprig, terwyl die oorsprong en materiaal behoue moes bly.

Audrey se seun, Juan Postma, het vertel dat Crabapple Cottage sy ma se skepping was en dit verteenwoordig ’n leeftyd waar hy naweke om sy pa gehelp het om die skuur en die Goodwin-huis te herstel.

Juan Postma as jong seun moes naweke die sandsteenklip van die skuur struktuur in ’n kruiwa stoot na hul eiendom waar sy ma dit weer wou oprig.

“My ma het gedurende die week al die sandsteenmure afgebreek terwyl my pa by die werk was. Sy het ’n platneus-skroewedraaier gebruik om die modder tussen die sandsteenblokke uit te skraap.

“Na skool moes ek die rotse op ’n kruiwa na ons eiendom skuif, met groot sorg om dit in volgorde te pak, ry vir ry, terwyl ons dit verwyder,” het Juan vertel.

Die struktuur was eers omskep in motorhuise en het later die Crabapple Cottage geword, waar Audrey en Helenius Postma in afgetree het.

Die huis soos dit gelyk het in 1971. Die krabappelboom staan steeds op dieselfde plek en pronk jaarliks tydens lente met pragtige bloeisels.

“Nadat ons uitgevind het van die erfenis, wou ons Audrey se nalatenskap laat voortleef en het so die gastehuis begin,” het Lélanie gesê.

Crabapple Cottage is vandag ’n gesellige tuiste vir gaste, bied eg Suid-Afrikaanse etes en hou op 1 Oktober hul eerste huiskonsert met gaskunstenaar Joshua na die Reën.

Die bloeisels van die jare-oue krabappelboom het die aankoms van lente bevestig en is reg om gaste te verwelkom.

Lélanie Rooseboom wou Audrey Postma se nalatenskap laat voortleef, daarom is Crabapple Cottage nou ’n gastehuis.

Vir meer inligting, kan Lélanie by 072 709 8560 gekontak word.

Die sandsteen mure wat Audrey Postma wou behou nadat sy dit van die struktuur van die ou skuur afgekap en haar seun dit met ’n kruiwa gestoot het om weer opgerig te word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button