Lente behoorlik gevier met Staxx kunsmark
Nita Alberts van Staxx Stationers and Art Supplies het die afgelope maande baie tyd spandeer om op 4 September die mark van markte in Nigel op die been te bring.
Na aanleiding van die aantal besoekers, stalletjies en terugvoering het sy haar goed van haar taak gekwyt en was die dag ’n sukses.
“Ons wou lente behoorlik vier met ’n mark wat ook voete na die Ferryvale-sentrum toe sou lok,” het Nita gesê en vertel hoe die besighede in die sentrum bygedra het tot die dag se sukses deur koopbewyse, afslag en pryse te skenk.

Ballonne was oral te sien en geskenkbewyse was binne in die balonne gesit. Kinders het rondgeloop met ballonne wat besoekers kon bars vir ’n kans tot ’n koopbewys.
Kunstenaars het op die stoep voor Staxx geskilder en hul werke te koop aangebied. Vir die aanloop tot die dag het Staxx ’n kunskompetisie van stapel gestuur, en Nigel se talent het gewoeker met die inskrywings.
Plaaslike kunstenaar Celia van Niekerk het een van haar werke geskenk en lootjies was verkoop om dit te wen. Leonor Last was die gelukkige wenner.

Nita het die kinders van Umephi Villa Liberi Child and Youth Centre, ’n kinderhuis in Nigel, ook betrek en gesorg dat die kinders deel van die dag se pret was. Kinders is deur Christel Olivier geleer van Dot art.
Die helfte van die stalletjies se inkomste is aan die kinderhuis geskenk. Roche Pepler van Earth Owl het ’n werkswinkel aangebied waar kinders geleer was van herwinning en wat met afvalitems soos plastiekbottels gedoen kan word.

“Die dag was weer eens ’n samevatting van ’n dorp wat saam staan en ’n gemeenskap wat saam hoop kan bring vir ’n beter toekoms,” het Roche gesê.
Nita het gesê: “Die dag was ’n groot sukses en die terugvoering van uitstallers was dat die dag ook besonders goed vir besigheid was.
“Ons is dankbaar vir elkeen se ondersteuning en sien uit om meer sulke markte te beplan.”





