Oorsake en risikofaktore van demensie en Alzheimer’s
Die wyse waarop ons dink en praat oor veroudering mag ’n direkte impak hê op ons gesondheid.

Almal verouder en om ’n negatiewe houding teenoor veroudering te handhaaf deur jou lewe het ’n groot invloed op jou kognitiewe, geestelike en fisiese gesondheid.
Dikwels is daar nie slegs een oorsaak nie, maar ’n sameloop van gebeure, gewoontes en omstandighede wat op loop tot die stadige vernietiging van die brein.
Beduidende oorsake
Kopbeserings weens ongelukke en sportbeserings, nagevolge van ’n beroerte.
Risikofaktore
Beperkte kennis en beperkte stimulasie, hoë bloeddruk, rook van sigarette, oormatige alkoholmisbruik en dwelm-misbruik, diabetes, depressie, gehoorverlies, oorgewig, onaktiewe lewenstyl, lugbesoedeling, konstante hoë vlakke van stres en spanning en sosiale isolasie.
Alzheimer se siekte
Dit is die mees algemene oorsaak van demensie. Gedurende die verloop van die siekte verander die chemie en struktuur van die brein, wat lei na die afsterf van breinselle.
Vaskulêre siektes
Die brein is van ’n netwerk are afhanklik om suurstofryke bloed daarheen te bring. Indien die suurstoftoevoer na die brein te kort skiet, sal breinselle waarskynlik afsterf. Die simptome van vaskulêre demensie kan skielik na ’n beroerte voorkom of oor die verloop van tyd deur ’n reeks kleiner beroertes.
Demensie met Lewy se liggaampies
Hierdie vorm van demensie verleen sy naam aan die sfeervormige strukture wat in senuselle ontwikkel. Hul teenwoordigheid in die brein lei na die degenerasie van breinweefsel. Geheue, konsentrasie en taalvermoë word aangetas.
Frontale-temporêre demensie (insluitend Pick se siekte)
Skade kom gewoonlik in die voorste gedeelte van die brein voor. Aanvanklik word persoonlikheid en gedrag meer as geheue aangetas.
Skaarser oorsake van demensie
Mense met veelvuldige sklerose, motorneuronsiekte. Parkinson se siekte en Huntington se siekte kan ook demensie ontwikkel.
Volgende week kyk ons na die simptome van Altzheimer’s.
• Inligting verskaf deur Marlene Walkden, maatskaplike werker by Suikerbosoord.



