NG Kerk Rensburg gemeente neem afskeid van ds Derrick
Ds Derrick Claassens (56), wat die NG Kerk Rensburg gemeente vir die afgelope 14 jaar bedien het, het op 19 September sy afskeidspreek gelewer.
Derrick het ’n beroep aanvaar by Meyerspark gemeente in Pretoria.
Derrick en sy vrou, Karien, wat vir 32 jaar getroud is, het aan HERAUT vertel van die spesiale jare wat hulle saam met Rensburg gemeente die Here kon dien.
“Rensburg is ’n omgee-gemeente wat altyd uitreik na mense in nood,” het hy vertel.
Derrick het sy beroep as predikant in Villiers begin waar hy vir ses jaar bedien het. Hy was daarna vir agt jaar by Morgenson en die afgelope 14 jaar by Rensburg.
Toe hy gevra was wat hy die meeste sal onthou van Rensburg gemeente, het hy geantwoord: “Besoekers en nuwe lidmate se eerste ervaring by Rensburg was altyd liefde. Liefde vir mekaar en liefde vir die Here.”
Hy het ook genoem van die gemeente se toewyding wat selfs deur moeilike omstandighede voortgegaan het met dienswerk. Een van die dinge wat die predikeregpaar na aan die hart lê, is die Kosmosgroep wat 10 jaar gelede op die been gebring was.

“Dit was ’n voorreg vir ons om deel te kon wees van dié projek en die gemeente is geseënd met bekwame mense wat dit beman,” het hy vertel.
Barbara Nolte, ’n gemeentelid, het gesê Derrick het baie vir die gemeente en vir die Rensburg gemeenskap beteken.
“Tydens die moeilike tye het hy nie geskroom om in te staan as koster, skriba en selfs nutsman nie. Ons gaan hom en Karien verseker baie mis.”
Die gemeente se leuse is Beuldraers vir Christus, en dit was ook Derrick se afskeidksboodskap aan die gemeente.
“Hou aan lief wees vir mekaar en wees altyd beuldraers vir Christus,” het hy afgesluit.




