Local newsNews

Klein dinge word van skooldae onthou

Die drie musketiers, soos hulle hulself noem, het onlangs 'n reünie gehou na 74 jaar.

‘n Besondere reünie, bestaande uit drie bejaardes wat in 1947 saam in ‘n graad een klas was, het onlangs gesorg dat herinneringe van toeka se dae weer herleef kon word.

Annatjie Schoeman, haar niggie Annatjie Kruger en Boetie Jordaan (al drie 81) is al wie oor is van hul 1947 graad een klas by Laerskool Braklaagte in die Grootvlei omgewing, wat later Laerskool Tobie Winterbach geheet het.
Die drie onthou nog hul skooldae asof dit gister gebeur het.

Jordaan het in 2020 vir Schoeman en Kruger opgespoor nadat hulle mekaar vir vele jare nie gesien het nie. ‘n Reünie (bestaande uit die drie) was die mikpunt, maar weens die pandemie kon hulle eers die jaar bymekaar uitkom.

In Augustus het die drie musketiers, soos hulle hulself noem, uiteindelik hul reünie gehou by die Lekoa Lodge naby Villiers.

Dit was by dié samekoms waar die drie met nostalgie terug gedink het aan hul skooldae en besluit het om die storie ook met ander te deel.

HERAUT het onlangs by Schoeman gaan kuier om meer te wete te kom van die reünie.

“Daardie jare was skole anders as wat dit vandag is,” het sy vertel.

“Skole was klein, ek bedoel ons was seker ses of sewe kinders altesaam in daardie graad een klas.
“Kinders het van vêr af skool toe gekom met ‘n donkiekarretjie of met perde of hulle het fiets gery of gestap.
“Ek onthou die skool het ‘n kampie gehad waar die donkies en perde kon staan tydens skoolure.”

Schoeman het vertel dat sy by haar ouma en oupa gebly het omdat sy te klein was en die skool te vêr dat sy nie alleen kon stap nie.

“Meneer Tobie Winterbach, na wie die skool later vernoem is, was destyds die skoolhoof,” het Schoeman uitgebrei.

“Hulle het op die skoolgronde gebly en ek onthou hoe bang ons nog vir sy vrou, tannie Annie, was.

“Ons wou altyd net van die bome se vrugte, onder andere perskes, pluk, maar sy het dit nie toegelaat nie.”

Schoeman het vertel hoe hulle soggens voor die skool bymekaar gekom het en dat die seuns altyd links gestaan het en die meisies regs.

Hulle was altesaam ongeveer 45 leerders in die skool.

“Meneer Winterbach het altyd sy hoedjie op sy kop gehad met ’n lat onder die arm,” het sy vertel.

“Daar was inspeksie gehou om seker te maak ons hare en naels, onder andere, is netjies.

“Voor ons na ons onderskeie klasse toe kon gaan, het hy ook eers vir ons gebid en Bybel gelees.”

Schoeman kon ook die uitleg van die skool se drie klaskamers onthou.

“Twee van die klasse was met skuifdeure geskei, wat gebruik was vir kerk of die jaarlikse konserte,” onthou sy.

Annatjie Kruger, Boetie Jordaan en Annatjie Schoeman het in 2021 ‘n reünie by die Lekoa Lodge naby Villiers gehou.

“Elke klas het ook ’n koolstoof gehad wat op wintersoggende deur die terrein opsigter, Abram, gestook was.”

Schoeman het vertel dat hulle elke oggend warm melk of kakao gekry het met ’n broodjie en dat hulle in die winter sop gekry het.

Hulle het ook tydens pouse elkeen ‘n vrug gekry met ‘n handjie vol grondboontjies met rosyne.

“Ons het ook daardie jare net eenmaal ‘n jaar atletiek gehad,” het Schoeman verder onthou.

“Ek onthou hoe ons destyds in die grootpad aflosse geoefen het.

“Ons sou dan eenmaal ‘n jaar per bus na Heidelberg ry, waar ons teen plaaslike laerskole van Heidelberg en Nigel gehardloop het.

“Vir ons plaaskinders was die amper vir ons ‘n uitstappie, ons het altyd daarna uitgesien.”

Die drie musketiers sien uit daarna om in die toekoms weer bymekaar te kom en oor die lekker ou dae te gesels.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button