Kwaaddoeners stig moontlik brand by stadion
Die John Vorster Stadion se klankkamer is klaarblyklik deur kwaaddoeners net voor Kersfees aan die brand gesteek.
NIGEL – Volgens die DA raadslid, Wollaston Labuschagne (Wyk 88), is daar is nog nie veel meer antwoorde van die Sport-, Ontspanning-, Kuns- en Kultuur Departement van die Stad van Ekurhuleni, rakende die brand wat kort voor Kersfees die John Vorster Stadion se media kamer verswelg het.
ALSO READ: Uit die gemenskap aan die gemeenskap
Dit wil voorkom dat die brand op die hoofpaviljoen deur kwaaddoeners gestig is.
Die mediakamer op die hoofpaviljoen is op 17 Desember in die middag aan die brand gesteek.
Inwoners het brand opgemerk en Ekurhuleni se nooddienste is na die toneel ontbied.
Kort nadat die nooddienste op die toneel aangekom het, is die vlamme onder bedwang gebring.

Labuschagne het bygevoeg dat inwoners nie noodgevalle slegs op sosiale media platforms soos Facebook moet aanmeld nie, aangesien dit net die reaksietyd van nooddienste kan vertraag en dat hulle eerder die betrokke noodnommers moet skakel.
“Die brand het groot skade aan ‘n deel van die stadion gerig,” het Labuschagne gesê.
“Ek sal met die afdelingshoofde kommunikeer om te verseker dat ingenieurs uitgestuur word om die stadion veilig te verklaar.”

Volgens Sers Neliswa Dwaba, kommunikasie beampte by die Nigel SAPD, ondersoek hulle nog die saak van brandstigting.
“Ons is tans besig om op ‘n leidraad op te volg, maar nog geen persone is gearresteer in verband met die brand nie,” het sy gesê.



