AfriForum Heidelberg-tak woordvoerder Willem Sprong het op 24 Januarie ’n amptelike kennisgewing by Lesedi Plaaslike Munisipaliteit gaan indien waarin kennis gegee word dat dié owerheid 30 dae het om griewe soos slaggate, rioolering, elektrisiteit, straatligte en vullisverwydering aan te spreek en te verbeter.
Sprong het gesê indien die munisipaliteit nie gehoor gee nie, gaan die inwoners van Heidelberg self die probleme aanspreek en die nodige herstel aan infrastruktuur behartig.
Die kennisgewing volg op ’n skriftelike versoek wat op 15 Oktober aan die munisipaliteit oorhandig was om die probleme aan te spreek. Tot op datum is geen kommunikasie of enige plan van aksie glo terug ontvang nie.
Sprong het gesê: “Ten spyte van die bereidwilligheid van inwoners om saam met die munisipalieit te werk, ignoreer hulle herhaalde versoeke daartoe. Dit laat ons dus geen keuse as om self in te spring nie.”
Verder het Sprong gesê dat Lesedi sal, volgens die proses wat gaan volg wat ook regstappe kan insluit, verantwoordelik wees vir alle koste wat nodig is vir die herstelwerk.



