Suikerbos-oord se tuine is ’n lus vir die oog
RSG se JJ van Rensburg besoek Suikerbos-oord.
Die inwoners van die Suikerbos-oord het sedert Oktober hard gewerk om hul tuine kompetisie-gereed te kry.
Dit het gevolg nadat Simoné Stimie en Leentjie Barnard van Meridian Eiendomme met ’n plan vorendag gekom het om ’n tuinkompetisie van stapel te stuur vir die inwoners van die oord.

Die senior burgers het behoorlik in hul tuine gewerskaf, sommige douvoordag al. Geen moeite is ontsien om die beoordelaar te beïndruk nie.

Op 8 April is die wenners van die tuinkompetisie in verskeie kategorieë aangewys.
Marlene Walkden, maatskaplike werker verbonde aan Suikerbos-oord, het gesê dat almal hard gewerk het om te verseker dat hulle tuine die oog sou vang.

Walkden het RSG persoonlikheid JJ van Rensburg, wie ook ’n tuinboukundige is, tesame met Kobus van Staden van Protek gekry om die inwoners te kom toespreek.

Van Rensburg het tydens sy praatjie die inwoners ingelig oor hoe om blomme beter te laat groei, water spaarsamig te gebruik en hoe om meer kleur in die tuine te kry.
“’n Tuin is soos jou persoonlikheid. Laat dit uitstaan vir ander om die mooi in jou te sien,” het Van Rensburg gesê.
Daar was verskeie borge wat pryse aangebied het vir die inwoners, onder andere Hand en Land.
Die wenners was:

• Huurwonings: Adrie Maratos (derde plek), Mnr en Mev Elliott (tweede plek) en Pieter van der Westhuisen (eerste plek).
• Selfbou-eenhede: Mariet Smit (derde plek), Elize Verster (tweede plek) en Alta Bester (eerste plek).
• Aandskof: Kotie Henning (derde plek), Jo Prins (tweede plek) en Poppie Meyer (eerste plek).
• SN (oorkant die straat): Hettie Meyer (derde plek), Mr en Mev Lindeque (tweede plek) en Mnr en Mev De Villiers (eerste plek).
• Silver Akker en algemeen: Marthie Greyling.




