Oud-Volkie as skoolhoof aangestel
Heidelberger kry top posisie by Laerskool Fontainebleau.
Kevin Kinghorn, ‘n gebore en getoë Heidelberger is aangestel as skoolhoof van Laerskool Fontainebleau, Randburg, vanaf 1 November.
Kevin het sy skoolloopbaan in Heidelberg voltooi, eers aan die Laer Volkskool waarna hy sy strepe aan die Hoër Volkskool verdien het. Hy was op die skoolbanke van 1995 tot 2004.
Na skool het Kevin sy opleiding verder voortgesit aan Universiteit van Johannesburg vanaf 2005 tot 2008.
In 2009 het hy sy honneursgraad by Tukkies behaal en in 2020 het hy sy MBA graad verwerf.
Nadat hy sy onderwysgraad verwerf het, het hy vir drie en ‘n half jaar by Louis Leipoldt Laerskool in Centurion sy ondervinding begin opbou.
Die vakke wat hy aangebied het was wiskunde en tegnologie.
Nadat hy Laerskool Louis Leipoldt verlaat het, was hy aangestel as departementshoof vir wiskunde en wetenskap by Laerskool Elardus Park in Pretoria.
Kevin het vir drie en ‘n half jaar in die pos gebly.
Daarna het sy pad gelei na die Laerskool in Krugersdorp waar hy aangestel was as adjunkhoof en waar hy vir ses en ‘n half jaar sy pos vol gestaan het.
Dit het alles gelei tot sy aanstelling as hoof van Laerskool Fontainebleau.
Kevin Kinghorn het ‘n gesegde waaraan hy vashou en uitleef.
“Alle kinders kan blom. Ons as onderwysers moet hulle net reg behandel en genoegsaam water gee sodat die blomme kan bot en tot hulle volle potensiaal kan ontwikkel.”