Prontuit: Dierebeskermer deel haar passie
Izalene het in Julie 2023 begin as leerling inspekteur en in Mei 2024 gekwalifiseer as inspekteur.
Die HERAUT leer die gemeenskap ken en het die week gaan kennis maak met Heidelberg Dierebeskermingsvereniging (DBV) inspekteur, Izalene Streicher (25).
Izalene is ‘n gebore Heidelberger en het slegs die dorp verlaat vir die drie jaar wat sy in Potchefstroom gebly en studeer het.
Sy was ‘n leerder aan die Laer- en Hoër Volkskool.
Nadat sy in 2018 gematrikuleer het, is na NWU Potchefstroom toe waar sy in 2021 haar graad in bedryfsielkunde en arbeidsverhoudinge gekry het.
Tydens haar studies in 2021 het sy as een van die Presidential Youth League studente by Laer en Hoër Volkskool gewerk asook begin om deeltyds by Heidelberg DBV te werk nadat sy ‘n paar straatkatte daarheen geneem het.
Izalene het ‘n diep en opregte liefde vir diere met ‘n sagte en empatieke geaardheid. Sy glo dat mense op aarde is om na diere om te sien.
Die passie het by haar vasgesteek toe die kantoor beampte by Heidelberg DBV ‘n onmisbare geleentheid gekry het om oorsee te gaan werk en dit gelei het tot die begin van haar DBV loopbaan.
“Dit was ‘n moeilike besluit want ek was baie sensitief oor diere en ek was bekommerd dat ek dit nie sou kon hanteer met al die mishandeling nie.
“Ek het toe besluit ek wil ‘n verskil maak in die lewe van hierdie diere wat na ons toe kom en ek het geweet daar is nie genoeg mense in ons land wat sulke werke doen nie,” het Izalene vertel.
Sy het ‘n tydelike pos aanvaar as die kantoor se administratiewe beampte en kennel toesighouer en in Oktober 2022 was sy vas aangestel. Sy het in Julie 2023 begin as leerling inspekteur en in Mei 2024 as inspekteur gekwalifiseer.
Izalene is gevra om van die gebeure in haar loopbaan tot dusver te deel en het vertel: “Dit is verbasend om te sê dat ek baie inspeksies gedoen het by plekke waar daar later kriminele sake oopgemaak was wat die gemeenskap van Heidelberg geskok het.
“Dit het net weereens bewys dat waar daar mishandeling en nalatigheid van diere betrokke is, kan erger dinge ook plaasvind.
“Ek en my span was ook betrokke met die veldbrande in die Suikerbosrand Natuur Reservaat waar ons twee dae lank geloop en gesoek het vir beseerde diere.
“Aannemings is altyd ‘n hoogtepunt vir ons en ook wanneer jy ‘n mishandeling saak kan afsluit en weet alles gaan goed afloop.”
Haar werk is nie ‘n alledaagse ‘sit agter ‘n lessenaar’ werk nie en daar is ook nie so iets soos beplan jou dag vooruit nie want die DBV word dikwels uitgeroep.
LEES OOK: Teens invited to play their part in protecting SA’s national parks
Sy en haar span doen gereelde uitreik programme om mense te leer oor diere welsyn voordat hulle net die diere wegvat. Hulle werk so ver as Villiers, Grootvlei, Balfour, Greylingstad en Frankfort.
“Baie mense besef nie dat ons nie net met honde en katte werk nie, maar met enige en alle diere. Ons doen inspeksies by troeteldier winkels, abattoirs, sekuriteitshonde, perde stalle, kulturele en gelowige aktiwiteite en nog baie meer,” het sy gesê.
Izalene se grootste passie is om ‘n verskil te maak, iewers waar dit saakmaak. Sy het vertel sy kom van ‘n familie waar die een kant almal verpleegsters is en die ander kant baie onderwysers.
Dit is in haar gene om iets te doen waar jy lewens probeer red, asook om opvoeding te doen. In haar vrye tyd hou sy daarvan om audio boeke te luister en speel graag aanlyn speletjies. Izalene het namens die DBV haar dankbaarheid teenoor die gemeenskap se hulp uitgespreek.
“Ons sal nie sonder die hulp van die gemeenskap kan klaarkom nie. Heidelberg DBV waardeer elke skenking en al die ondersteuning. Ons is bevoorreg om ‘n gemeenskap te hê wat daar is vir ons, veral as ons iets dringend benodig vir die diere.
Mense sal opdaag met skenkings of bakkievragte kos en komberse.
“Vir ons maak dit nie saak hoe klein of min nie, want elke skenking maak ‘n verskil,” het sy gesê.
Sy het ook versoek dat die gemeenskap hul oë en ore moet oophou en dadelik die DBV moet kontak as hulle mishandeling sien.
Sy het verder gevra dat dié wat op soek is na ‘n troeteldier, eerder na die DBV toe moet kom as om diere te gaan koop.
Izalene is onwrikbaar in haar toewyding om diere te beskerm en te versorg.
Sy is elke dag gereed om uit te gaan, ongeag die weersomstandighede, om diere te red wat in nood is.
Izalene vertel hul werk is ongelukkig ‘n baie hartseer en ondankbare werk maar wat haar deur alles kry is die wete dat hulle die lyding van diere stop.
“Ons hanteer soms baie hartseer gevalle, maar die volgende dag staan ons weer op en doen dit weer. Iemand moet hierdie werk doen want as ons dit nie doen nie, wie gaan?” het sy vertel en genoem dat die span by Heidelberg DBV mekaar altyd ondersteun deur al die moeilike goed.
Sy is ook dankbaar teenoor haar verloofde, familie en vriende wat haar ondersteun in haar werk. Izalene se passie vir dierewelsyn is onontbeerlik.
Sy is iemand wat haar lewe toewy aan die welsyn van diere en elke dag met ‘n medelydende hart en ‘n vaste hand die wêreld ‘n beter plek wil maak vir ons viervoetige vriende.



