Mario neem die leisels oor by Berge
Die hoof afrigter van die Heidelberg Rugbyklub is reg vir die uitdaging en wil die klub tot nuwe hoogtes neem.
HEIDELBERG – Heidelberg Rugbyklub se nuwe hoof afrigter, Mario Jordaan stap al ‘n lang pad in die rugby wêreld. Jordaan neem hierdie seisoen die leisels oor by Jaco van Rensburg.
Hy het sy klub rugby loopbaan in 1998 by Elsburg Rugbyklub begin waar hy ‘n speler was. Sy posisie was binnesenter, waar hy tot 2004 as speler die span verteenwoordig het.
Jordaan het daarna vir Oos Rand Polisie uitgedraf waar hy as buite senter gespeel het in 2005. In 2006 is hy gekies vir die Valke se amateur span.
Hy het vir drie jaar die Valke verteenwoordig waarna hy vir ‘n ruk sy stewels opgehang het. In 2018 wou Jordaan weer sy gewig as speler ingooi by Elsburg maar het toe eerder ‘n afrigter geword.
Dieselfde jaar het Elsburg deurgedring na die Valke se Kestrel Liga finaal toe waar hulle teen die Buffels verloor het. In 2019 het Elsburg die Kestrel Liga gewen met Jordaan aan die spits. Daar het Jordaan gebly tot 2023.
“Ek is nog ‘n jong afrigter en wil graag nog baie vermag. Ek is dankbaar vir die geleentheid dat Heidelberg Rugbyklub die leisels aan my toe vertrou.
“Dit is ‘n groot eer om die hoofafrigter te wees van ‘n klub met so ryk geskiedenis. Die mikpunt is dat die klub weer die gloriedae van ouds herleef en die dorp trots sal wees op die klub en spelers,” sê Jordaan.
“Ek weet daar is groot skoene om vol te staan met die vorige afrigter, Jaco van Rensburg wat soveel met die span uitgerig het oor al die jare. Ek wil vir seker op sy nalatenskap voortbou,” het Jordaan verder uitgebrei.
Jordaan se doelwit is eerstens om meer spelers te lok om deel van die klub te word.
“Ek wil poog om die beste uit elke speler te kan kry en saam die span op te bou na groter hoogtes toe,” het hy gesê.
ALSO READ: How to go back to school with ease and less stress
“Verder is die mikpunt dat die span in die top vier van die liga sal eindig en dat ‘n semifinaal en ‘n finaal dan ‘n werklikheid word.”
Die tweede span het in die 2024 seisoen tot in die uitspeelrondes gekwalifiseer waar hulle teen die uiteindelike wenners Benoni Northers vasgeval het.
Mario se hoop is om voort te bou op dié prestasie sodat die silwerware vanjaar huis toe kan kom.
“Elke speler skryf sy eie storie, maar saam kan ons ‘n hele vervolgverhaal skryf,” sluit Jordaan mee af.
Spelers van o20 en ouer wat by die klub wil aansluit kan vir Mario Jordaan kontak by 062 728-2232.



