Local newsNews

PRONTUIT: Inwoner se onbaatsugtige toewyding maak ‘n verskil

“Hoe meer mense ons het wat vir mekaar omgee en uitkyk, hoe groter is die kans dat misdaad kan daal en bekamp word.”

‘n Persoon wat hul vrye tyd opoffer om ander te help, is iemand met ‘n diepgewortelde gevoel van empatie en ‘n gees van onbaatsugtigheid.

Hierdie individu is altyd bereid om hul eie gemak en belange opsy te skuif om ‘n verskil in ander se lewens te maak.

Hulle is dikwels volhardend en kreatief, soek oplossings vir probleme en inspireer ander om ook by te dra.

Sulke mense vind dikwels hul beloning in die glimlagte en dankbaarheid van diegene wat hulle help, en hul bydraes laat ‘n positiewe, blywende indruk op die gemeenskap.

Heidelberg gemeenskap kan spog met so ‘n inwoner.

Franco Vermaak (34) is ‘n lid van die AfriForum Buurtwag. Hy leef nie net vir sy familie nie maar ook vir sy gemeenskap en glo dat hoe meer mense omgee en uitkyk vir mekaar, hoe groter is die verskil wat elkeen in sy gemeenskap kan maak.

Vermaak is getroud met Danika en die egpaar het twee seuns Wikus (14) en Ivan (3).

Die Vermaak familie deel ‘n diep band van liefde, respek en lojaliteit wat hulle help om uitdagings saam te oorkom. In moeilike tye is hulle daar vir mekaar, of dit nou finansiële swaarkry, gesondheidsprobleme, of emosionele uitdagings is.

Beide hul seuns is hul ‘super heros’ wat daagliks veg teen gesondheids krisisse.

“Ons gesin het al deur baie moeilike tye gegaan en die gemeenskap ondersteun ons. Ek sal altyd daar wees vir my medemens wat in nood is want om mense te kan help, of dit by ‘n inbraak of ‘n ongeluk is of selfs iets soos bome verwyder is my persoonlike roeping. Ek sal daar wees om te help,” het Vermaak gesê.

Vir hom is dit belangrik dat mense hul bure leer ken en uitkyk vir mekaar.

“Hoe meer mense ons het wat vir mekaar omgee en uitkyk, hoe groter is die kans dat misdaad kan daal en bekamp word,” het Vermaak vertel en bygevoeg dat jou bure en die gemeenskap om jou baie vinniger kan reageer in ‘n tyd van nood.

“Die twee tot vyf minute wanneer ‘n misdaad of insident plaasvind is krities en as jy die mense rondom jou ken, kan hulle vinnig tot hulp kom,” het hy verduidelik.

Vermaak het vertel dat daar nie regtig af dae vir hom is nie. Alhoewel sy vrou soms spot en sê hy gaan weer uit saam met sy mansvriende as daar ‘n nood oproep is, deel sy ook die passie van naasteliefde en omgee vir die gemeenskap.

Vermaak en sy vrou is besigheidsvennote en ten spyte van al die storms wat hulle tref, staan hulle nie terug vir harde werk nie.

“Daar is soms dae wat ek my werk moet los en jaag vir bystand waar dit dringend nodig is, maar ek moet altyd ‘n balans handhaaf want my besigheid is wat ‘n dak oor ons koppe hou,” het hy gesê.

Vermaak het van die insidente waarop hy gereageer het gedeel. Hy vertel van ‘n motor wat hulle by Jordaanpark se ingang afgetrek het op reaksie van ‘n roof en hulle vier verdagtes kon in hegtenis neem.

Hy het ook vertel van verskeie gesteelde voertuie wat teruggevind is, mediese hulp wat gelewer is en mense se lewens gered het en ook waar verskeie kriminele gevang was wat besig was met inbrake.

“Daar is so baie insidente om te deel maar ongelukkig is daar ook soveel mense wat redeneer dat dit nog nie met hulle gebeur het nie, so hoekom moet hul betrokke raak,” het Vermaak gesê.

“Almal se hulp en oë maak ‘n verskil,” het hy afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button