Local newsNews

Boeremark by Voortrekkermonument vier erfenis én ekonomiese lewensaar

’n Splinternuwe hoofstuk word Saterdag 25 April by die Voortrekkermonument ingelui.

’n Splinternuwe hoofstuk word Saterdag 25 April by die Voortrekkermonument ingelui met die Kultuurtuiste en Saai se heel eerste Boeremark op hierdie ikoniese erfenisterrein.

Dié gebeurtenis gaan nie net ’n sintuiglike fees wees nie, maar ’n betekenisvolle bydrae tot die volhoubaarheid van ons erfenis én die boerderygemeenskap as ekonomiese lewensaar lewer.

Die doel van die Boeremark is tweeledig. Enersyds kry besoekers die geleentheid om die monument van naderby te besigtig en andersyds word ’n nuwe, broodnodige afsetpunt vir boere geskep om met hul produkte te spog.

In ’n tyd van groot onsekerheid in die landbousektor – van stygende insetkoste en markonsekerheid tot bek-en-klouseer – kom die Boeremark op nét die regte tyd.

Volgens Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai, lê die krag en hart van die Boeremark in die ontsluiting van waarde.

“Ons wil hê boere, wat tans onder geweldige druk is, moet meer vir hul produkte kry, terwyl die verbruiker minder betaal. Deur die middelman uit te skakel, sit ons die menslikheid terug in kos,” sê Lourens.

“Die koper kry die geleentheid om die boer in die oë te kyk, sý of haar storie te hoor, en ’n gesig aan ’n produk te koppel. Só word verhoudings gebou waarin almal as wenners wegstap.”

Hierdie regstreekse verbintenis tussen produsent en verbruiker is volgens Lourens krities vir die toekoms van plaaslike landbou.

“Selfs groter boere wat op uitvoer fokus, vind baat by markte soos dié,” meen Lourens.

“Daar is altyd produkte wat nié uitgevoer word nie en dit sal deur die plaaslike mark opgeraap word. Deur hul produkte by die monument te verkoop, is die boere boonop teen die pryswisselvalligheid van varsproduktemarkte verskans,” verduidelik hy.

“Boere is nie net die lewensaar van ons ekonomie nie, maar ’n onlosmaaklike deel van ons erfenisverhaal. Met die Boeremark by die Voortrekkermonument vier ons geskiedenis én kultuur.

“Ons vier bowenal die vrug van elke boer wat in die ongenaakbare Afrika-son vir kos op ons tafels sorg,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste.

“Dit is mense by wie ons só baie leer. Hoe om naby aan die grond én God te leef. Onvoorwaardelik op Hom vir voorsiening te vertrou. Ons vergeet dikwels van die lang en soms moeilike reis van saadjie tot smulkos.

“Ons stop by die winkel, laai wat ons nodig het in die waentjie en vertrek meestal sonder om dié mense te onthou, eer en vier wat op hul knieë vir reën en seën gebid het,” sê Langner.

Die belangstelling in die Boeremark by die Monument spreek boekdele. Bykans 100 stalletjies is reeds bespreek en bied iets vir almal: van geurig voorbereide kos, koekies en ander tuisgebak, tot klere, tradisionele vellies, plante, vleis, vars groente en vrugte.

Dit alles in ’n unieke atmosfeer onder die rooi amfidakke aan die onderpunt van die amfiteater op die Voortrekkermonument-terrein – ’n ruimte wat die mark ’n besonderse karakter en gevoel van samehorigheid gee.

Die organiseerders se visie is om die Boeremark as ’n familievriendelike uitstappie te vestig – ’n plek waar oud en jonk saamkom om vars produkte te koop, plaasstories te hoor en ’n ontspanne oggend in ’n veilige, historiese omgewing te geniet.

Dit is nie bloot ’n mark nie, maar ’n kuierplek waar gemeenskap en kultuur hand aan hand stap.

Daar is boonop groot toekomsplanne. Die droom is om die Boeremark mettertyd uit te brei tot 300 stalletjies, met nóg meer vermaak en aktiwiteite om dit in ’n ware fees vir die hele gemeenskap te omskep.

Die Voortrekkermonument en Saai nooi die publiek om hierdie Saterdag van 06:00 af deel te word van iets besonders – ’n viering van ons boere en hul onmisbare bydrae tot ons geskiedenis – en om saam te bou aan ’n volhoubare toekoms.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button