Plundery van kragbokse in Heidelberg wek kommer
Die voortdurende plundering van kragbokse laat wyke sonder krag en stel die publiek aan gevaar bloot.
Infrastruktuurbeskadiging het een van die ernstigste misdrywe in die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit geword, met Heidelberg wat die afgelope tyd ’n skerp toename in veral kragboks-stropings ervaar.
By sommige voorvalle word nie net een nie, maar verskeie kragbokse in ’n enkele nag geteiken.

Die toenemende plundery bedreig nie net dienslewering nie, maar hou ook gevaar in vir die stropers en die publiek.
Die onkoste verbonde aan die herstel van die skakelaars en kragbokse is enorm, en by tye is daar nie materiaal beskikbaar om dit dadelik te herstel nie.

Verskeie instansies en raadslede het hul kommer uitgespreek oor die euwel en voel dat die munisipaliteit aanspreeklikheid moet aanvaar en meer in die stryd moet werp om die plundering hok te slaan.

“Sedert 24 Oktober is daar al oongeveer 30 kragbokse wat in die slag gebly het as gevolg van vandalisme,” het Yvonne van Coller, raadslid vir Wyk 8, gesê.
Verlede naweek was daar ten minste weer drie bokse wat geplunder is, en die teiken is veral Heidelberg-sentraal.
“Ons staan gebuk onder die beskadigings en ons as gemeenskap wil weet hoeveel skade moet ons nog ly alvorens Lesedi Munisipaliteit iets hieraan gaan doen,” het raadslid Gerry Holzhausen van Wyk 9 gesê.

“Die afgelope tyd was daar verskeie kragbokse wat in die slag gebly het, wat nie net ons as gemeenskap sonder krag laat sit nie, maar ook ’n veiligheidsrisiko inhou,” het Holzhausen gesê.
Die Heraut het wyke 8, 9 en 10 besoek om eerstehands te sien hoe groot die probleem werklik is.
Wat duidelik sigbaar is, is dat baie bokse glad nie gesluit is nie.

Daar is ook bokse wat met draad en tou vasgemaak is.
Verder is dit duidelik dat sommige van die kragbokse glad nie behoorlik gesluit kan word nie, terwyl ander elektrisiteitskaste nie eens oor die nodige raamwerk beskik om die bokse te ondersteun of te beskerm nie.

Die Heraut het die Lesidi Munisipalteit gevra vir kommentaar, wat teen druktyd nog nie ontvang is nie.



