Ability Academy laat teenstanders regop sit
Vegters van Ability Academy het goed gevaar tydens die toernooi.
Op 10 en 11 September het vyf vegters van die Ability Academy aan die Submission Kings, Queens en Kids-toernooi in Randburg deelgeneem.
Sebastian Ferreira het met harde werk met al sy teenstanders klaargespeel en die goue medalje opgeraap. Tot hede het Ferreira in sy laaste vier kompetisies nog nie ‘n geveg verloor nie.
Andreas van der Merwe het sy eerste drie gevegte gewen en in die vierde geveg moes hy ongelukkig sy knie buig. Van der Merwe het met sy derde plek ‘n brons medalje verdien.
William Roos het in sy gevegte uitstekend gevaar en het tot in die finaal gevorder. In sy finaal het hy ongelukkig nie as wenner van die mat afgestap nie en het ‘n silwer medalje verower.
Arno Jordaan het tot in die finale geveg gevorder in sy klas waar hy ook ‘n silwer medale losgeveg het.
Afrigter Stefan Pretorius het in twee verskillende klas gevegte deelgeneem en in beide sy gevegte gewen en tot in die finaal gevorder waar hy teen Tiaan Gerber te staan gekom het.
In altwee die finale het Pretorius ‘n silwer medalje verower. Hy het met sy goeie vertonings die afgelope tyd sy plek op die ranglys verbeter en is tans 13de op die ranglys van 195 deelnemers in 43 verskillende klubs.
“Die Ability Academy vegters het teen ongelooflike sterk opposisie te staan gekom en moet hard werk om die medaljes te verower,” Pretorius het gesê,
“Om te verduidelik hoe ek voel is uiters moeilik. Ability Academy se vegters het getoon waartoe hulle in staat is en die res van die klubs moet verseker regop sit en kennis neem van ons,” het Pretorius bygevoeg.
Persone wat belangstel om by die klub aan te sluit kan Pretorius by 084 815 0410 kontak.



