Min oor van ou bome na snoeiwerk
Die akkerbome is klaarblyklik tussen 80 en 100 jaar oud.
Verskeie akkerbome, geleë in die Jim Fouché Park in Nigel is onlangs, volgens inligting, deur ‘n kontrakteur aan die Stad van Ekurhuleni gesnoei.
“Die 80 tot 100-jaar-oue bome is nie korrek gesnoei nie en ek is oortuig daarvan dat sommige van die bome beskadig is as gevolg hiervan,” meen DA raadslid, Wollaston Labuschagne.
“Ek het met verskeie omgewingsbewustes gepraat nadat bekommerde inwoners my gekontak het en die algemene gevoel is dat die bome te veel gesnoei is.”
‘n Amptenaar van die stad, wat anoniem wil bly, meen dat die akkerbome teen die Nigel Tennisklub se heining gesnoei is omdat dit ‘n sekuriteit risiko inhou.
“Die bome maak dit moeilik vir die sekuriteitswagte om in die aande te sien,” het die amptenaar gesê.
“Van die takke het ook op die tennisklub se heining gelê en dit beskadig.”

Labuschagne meen egter dat die sekuriteit van die park nie ‘n verskoning is vir hoe sleg die bome gesnoei is nie.
“Die bome is nie korrek gesnoei nie,” sê Labuschagne.
“Reg rondom die park is daar beskadigde heinings, haweloses wat in ‘n verlate geboue woon en natuurlik ook die tekort aan lig in die aande wat ook alles ‘n sekuriteit risiko is.
“Die akkerbome, volgens my, moes nie so gesny word nie.”
Labuschagne meen dat hy ‘n kundige se advies gaan inwin en beslis nie die saak daar gaan laat nie.
Hy is verder van mening dat die slegte snoeiwerk aan die ou akkerbome selfs ‘n omgewingsoortreding kan wees, aangesien die bome as erfenisbome geklassifiseer kan word.
Tydens ‘n besoek op 5 Oktober, het Labuschagne saam met die nuwe kliëntediensbestuurder van die Nigel Customer Care Centre (CCC) , Fortune Mahano, beloof om die saak verder te ondersoek.
“Inwoners is woedend oor die bome,” sê Labuschagne ter afsluiting.
“Ons kan dit nie daar laat nie.”
Die amptenaar het beloof dat die snoei van die akkerbome nie voortgesit sal word nie.
Die Stad van Ekurhuleni is genader vir kommentaar oor die snoei van die bome en is mening dat die snoeiwerk noodsaaklik was.
“Die bome is oorgroei, wat vir die park en sy fasiliteite ‘n slegte voorkoms gee,” sê woordvoerder vir die stad, Zweli Dlamini.
“Die bome het ook omliggende heinings beskadig en het dit moontlik gemaak vir onwettige aktiwiteite om op die gronde plaas te vind.
“Aangesien die bome nie ‘n bedreigde spesie is nie en om duidelike besigtiging vir die sekuriteit van die park toe te laat, moes die bome gesnoei word.”
Dlamini het bygevoeg dat die stad die moontlike betrokkenheid van die Groen Skerpioene, wat Labuschagne by die saak wil betrek, sal verwelkom.
“Dit sal goed wees om hulle insette oor die saak te hê,” sê Dlamini. “Sodat ons die regte riglyne kan volg rakende die bome, of hulle wel as erfenis bome geklassifiseer kan word, of hulle bedreigd is en of hulle dalk in ‘n ander area oorgeplant moet word.”
Die stad het voorgestel dat alle geïdentifiseerde bome van erfenis waarde, oorgeplant moet word na aangewysde areas.



