Rensburg VLU sluit jaar vrolik af
Die tak het hul jaar vrolik afgesluit tydens 'n gesellige vergadering.
Lede van die Rensburg VLU tak het op 15 November die jaar op ‘n vrolike wyse by een van die lede se huis afgesluit.
Marty Jerling, voorsitter van die tak, het die lede bedank vir ‘n goeie jaar.
Tydens die vergadering is Elmarie Eygelaar as die lid van jaar aangewys.
Patricia Meyer, voorsitter van die Helpende Hand se Heidelberg-tak het saam met Mariolette Vorster (streeksorganiseerder vir Helpende Hand Oos-Rand) ook die vergadering bygewoon.

Die VLU-lede het verskeie pakkies opgemaak met verskeie items wat aan behoeftige skoolkinders geskenk sal word.
Meyer het die tak bedank vir hul volgehoue ondersteuning en oop harte teenoor Helpende Hand se verskeie projekte.
Helpende Hand se Heidelberg-tak het ook aan VLU lid Jeanie Boshoff ‘n toekenning oorhandig om haar onlangse prestasies by die VLU te vereer.

Boshoff het vroeër vanjaar 100% vir ‘n kolletjie-kuns artikel verower, wat ‘n eerste is in die 90 jaar van die VLU se bestaan.
Ten einde van die vergadering het die vroue onder leiding van gasvrou Esra Leibold hul eie Kersklokkies gemaak.
Die tak se volgende vergadering sal in Januarie plaasvind, waartydens die tak se nuwe bestuur verkies sal word.
Vir meer inligting oor die tak kan Eygelaar by 082 561 0441 gekontak word.




