HOP huisbewoners moet ontruim
Die uitsetting proses is volgens die EMPD so vreedsaam as moontlik hanteer op die dag.
Bewoners van Mackenzieville uitbreiding twee HOP behuising is op 28 Februarie uit hul huise gesit.
Lede van die EMPD gespesialiseerde magte, Land Invasion Unit, SAPD en die Departement van Menslike Nedersettings was betrokke by die uitsetting.
Die proses het omstreeks 04:00 afgeskop en het ook ontaard in ’n situasie waar rubberkoeëls afgevuur is.
Amptenare het vir inwoners op die dag tyd gegee om hul meubels en ander eiendom self te verwyder.
“Diegene wat hier bly, woon sedert 2019 onwettig,” het Konstabel Ignatius Maphike, EMPD kommunikasie beampte aan die HARAUT gesê.

“In 2020 het ons ‘n bevel ontvang om die onwettige bewoners uit hul huise te sit, maar weens Covid-19 kon ons nie omdat inperking regulasies ons verhoed het.”
Volgens die EMPD word sowat 505 huise onwettig beset. Die gemeenskap het intussen die hofbevel sedert 2020 probeer beveg.
In Desember 2022 het die Ekurhuleni munisipaliteit die saak gewen, waarna daar aan die bewoners kennis gegee is om die huise te ontruim.

Die EMPD het ook in Januarie 2023 die inwoners gemaan om te ontruim.
Volgens die inwoners, het hulle destyds hier ingetrek om hul bates te beskerm.
“Ons het almal in 1996 aansoek gedoen vir verblyf,” het Janison Muller gesê.
“Maar as gevolg van ‘n tekort aan genoeg huise het meeste mense wat aansoek gedoen het, nie ‘n plek ontvang nie.”

Inwoners meen dat diegene wat in 2014 geprioritiseer was om hier behuising te ontvang, dit nie wou hê nie, wat daartoe gelei het dat die leegstaande plekke verwaarloos is.
Muller het aan HERAUT gesê dat die gemeenskap in Desember 2019 by die huise ingetrek het om vandalisme te voorkom en misdadigers te keer om die huise te stroop en te beskadig.
“Die huise was wanbestuur, vandalisme het voorgekom en daar is begin om die huise te stroop van deure, dakke en vensters,” het Muller gesê.

“Ons het ingetrek om sulke omgeruimdhede te stop.”
Mohammed Fareed beweer dat hy tydens die optrede deur ‘n rubberkoeël in die kop geskiet is.
Ander gemeenskapslede, wat ook kinders insluit, is ook vermoedelik deur koeëls getref.
“Ons het die proses so vreedsaam as moontlik probeer hou,” het Maphike oor die skietvoorval gesê.

“’n Groep mans wat hier woon het ‘n lid van die EMPD aangeval waarna ons minimum geweld gebruik het om die mans in toom te hou. Ons is nie bewus van enige ander skietvoorvalle tydens die gebeure nie. Daar was baie spanning gewees rondom die uitsetting,” het Fareed gesê.
Van die inwoners van die HOP huise is van mening dat die amptenare hul meubels en ander eiendom gesteel het toe die proses begin het.

Goodman Zwane, ‘n lid van die Patriotic Alliance, meen dat hulle op die dag daar was om die gemeenskap te help en by te staan.
“Ons verstaan hoekom inwoners uitgesit is, aangesien nie almal hier verblyfreg het nie,” het Zwane gesê.
“Maar hoe dit gedoen is, is nie reg nie.”





