Berge teken ‘n wegholoorwinning aan teen Tembisa
Heidelberg druk 13 drieë teen Tembisa

Heidelberg Rugbyklub het op 6 Mei in die Kestrel Liga teen Tembisa Stallions op Hoër Volkskool se rugbyveld te staan gekom.
Heidelberg het ‘n weghol oorwinning van 73-5 oor Tembisa behaal.
Die eindtelling sou hoër gewees het as daar met die doelskoppe geslaag is.
Die eerste paar minute van die wedstryd was baie kompeterend gewees, met ‘n paar stampe en stote van beide kante af.
Nadat Heidelberg Tembisa se verdediging baasgeraak het, was daar egter net een span op die veld gewees.
Heidelberg het na willekeur die doellyn oorgesteek.
In die eerste helfte het Heidelberg vyf drieë gedruk waarvan drie drieë vervyf was.
Halftyd was Heidelberg klaar gemaklik voor met ‘n telling van 31-0.

In die tweede helfte het die Berge voortgebou aan hulle eerste helfte vertoning en behoorlik die krane oopgedraai.
‘n Verdere agt drieë is gedruk en een vervyfskop was suksesvol.
Tembisa het een troosdrie gedruk wat nie vervyf was nie
Die skeidsregter het by tye sy hande vol gehad met beide spanne, waar ongeoorloofde spel voorgekom het.
Tembisa was ook nie gelukkig met die intensiteit van een van Heidelberg se spelers gewees nie en het eers verder begin speel nadat hy vrywillig die veld verlaat het.

Behalwe vir die hoeveelheid drieë wat Heidelberg gedruk het was hulle in al die ander afdelings ook in beheer gewees.
Beide spanne het altesaam 12 keer die bal in die skrum ingegooi en in die lynstaanspel het Heidelberg die meerderheid van die ingooie gehad.
Berge het een lynstaan verloor en Tembisa drie. Stallions het ook vier vaskoppe afgestaan.

Aan die strafskop-kant het Heidelberg 22 strafskoppe afgestaan teenoor Tembisa se 12.
In die losgemaal en dryfbewegings het Heidelberg se totaal op 30 te staan gekom en Tembisa 22.
In die eerste helfte het elke span ‘n geelkaart ontvang vir geniepsige spel.

Heidelberg se punte was as volg aangeteken: drieë: Duncan van Zyl (4), Bongi Ntuli (1), Jason van Jaarsveld (2), Brennan Ryan (2), Franco Strydom (2) en Roaan Viljoen (2) en vervyfskoppe: Armand Malherbe (1), 10 Jason van Jaarsveld (1) en Roaan Viljoen (2).
Heidelberg se volgende wedstryd is teen Tsakane op 13 Mei in Tsakane.
