Egpaar se huwelik skitter soos ‘n diamant
Geloof, liefde en baie geduld is die egpaar se wenresep.
Suikerbosoord inwoners Pieter (81) en Magrietha (79, Duifie) Griffin vier op 1 Junie hul 60ste huweliksherdenking.
Die egpaar was vanaf hul eerste ontmoeting onafskeidbaar en het mekaar die afgelope 60 jaar deur lief en leed bygestaan.
Pieter is op 31 Mei 1942 in Springs gebore waar hy ook skool gegaan het en Duifie is in Benoni gebore waar sy haar skoolloopbaan voltooi het.
Pieter en Duifie se eerste kennismaking was in 1961 by ‘n vriend se troue waar hy die musiek vir die aand verskaf het.
Duifie het die troue saam met ‘n vriendin bygewoon, met die voorwaarde van haar ouers af, dat die vriendin haar na afloop van die troue moes huis toe neem.
Die ontmoeting tussen die twee, was volgens hulle, liefde met eerste oog opslag.
Pieter het daarna vir Duifie gevra of hy haar huis toe kan neem en sy het onmiddellik ja gesê.
Vandaar was die koeël deur die kerk en het die twee se lewenspad saam begin.
Hulle is op 1 Junie 1963 in die Hervormde Kerk in Springs in die huwelik bevestig.
Na die troue het Pieter en Duifie hulself in Benoni gevestig waar Pieter sy werk as skrynwerker begin het.
Die egpaar het twee dogters en ‘n seun, Hettie (58), Louis (55) en Lourette (50).
Die kinders het die egpaar met ses kleinkinders en vyf agterkleinkinders geseën. Al die kinders woon nie te ver van die Griffin egpaar af nie.
Een van Pieter se liefdes is musiek en wanneer hy kan maak hy graag musiek by Suikerbosoord, waar hulle nou al vir agt jaar woonagtig is.
Van die plekke waar die Griffin-gesin woonagtig was sluit Carltonville, Ellisras en Heidelberg in.
Terwyl die gesin in Ellisras gewoon het, het die ongeluk hulle behoorlik gery en hulle het alles in ‘n huisbrand verloor. Al wat agtergebly het was hulle klere aan hulle lywe en hulle onsterflike liefde vir mekaar.
Die lang huwelik gogga bly gewis in die Griffin familie. Pieter se broer was ook vir oor die 60 jaar getroud en sy suster vir 54 jaar.
Volgens die egpaar kla hulle nie oor hulle gesondheid nie.
Daar is maar altyd die pyne en skete van oud word. Pieter hoop om binnekort ‘n heupvervanging te kry.
“Die geheim van ons lang huwelik is verseker eerstens geloof, liefde en emmers vol geduld,” het Pieter geskerts.
“Ek voel so geërd om elke aand nog Duifie se hand te kan vashou en te sê ek is lief vir haar. Om in Duifie se oë te kyk maak my knieë nog lam.”



