Suikerbosoord inwoners neem prag foto’s
Die inwoners het byna 'n 100 foto's vir die kompetisie ingeskryf.
Die Suikerbosoord het onlangs ‘n fotokompetisie aangebied en daarmee ‘n uitnodiging aan hulle inwoners gerig om foto’s in verskeie kategorieë in te skryf.
Die belangstelling was groot aangesien ’n totaal van 98 foto’s ingeskryf is.
Op 2 Junie het die voorsitter van Heigel Fotoklub, Francois van Jaarsveld die inwoners toegespreek en op ‘n kort foto-staptoer deur die Drakensberge geneem.

“Foto’s is soos die lewe. Kry jou prioriteite in fokus en die res sal in plek val. Sodra jy jou fokus op iets plaas sal jy die groter prentjie raaksien,” was Van Jaarsveld se raad aan die inwoners.
Al die ingeskrewe foto’s is tentoonstel vir almal om te sien.
Van Jaarsveld het ook raad gegee oor hoe om goeie foto’s te neem.

Die kategorieë waarin die inwoners kon inskryf was blomme, hande, herfs, iets pers, insekte, kos, patrone en voëls.
Die wenners van die verskillende kategorieë was:
Blomme (Brenda Kotze), hande (Betsie Pretorius) herfs (Janet Early) iets pers (Beryl Senior), insekte (Annelie Gericke), voëls (Brenda Kotze), kos (Rina Lawless) en patrone (Rina Lawless). Die algehele wenner was Brenda Kotze.
Suikerbosoord se maatskaplike werker, Marlene Walkden het elkeen wat ingeskryf het vir die kompetisie, asook die borge bedank.






