Plaaslike stylikoon kuier in New Zealand
Sandra Taljaard van Style Challenge International meen die tyd in New Zealand was vir haar 'n eer.
Sandra Taljaard van Style Challenge International het onlangs die geleentheid gekry om in New Zealand werkswinkels aan te bied.
Taljaard was vanaf 8 Mei tot en met 26 Mei in die land.
Die funksies is met behulp van Mariska Viljoen en haar nie-winsgewende organisasie, Labyrinth for Lemonade georganiseer.
Dié organisasie beoog om geleenthede te skep vir vroue wat na die land immigreer, met die oog daarop dat vroue hul reise met ander kan deel wat ook dieselfde pad gestap het.

“Dit was vir my ‘n ongelooflike voorreg om vir Sandra te ontmoet en saam die Noord Eiland te toer en verskillende plekke besoek het waar ons die funksies gehou het,” het Mariska Viljoen van Labyrinth for Lemonade gesê.
“Sedert ek haar destyds via Zoom ontmoet het, het ek besef dat dit wat sy doen, nie vir haar werk is nie maar eerder ‘n passie. Om vroue op te bou, te inspireer en te verryk is deel van wie sy is.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring en ons kan nie wag om haar in die toekoms weer in New Zealand te hê nie,” het Mariska gesê.
Die tema van die werkswinkels was: Jy is ‘n Supervrou met die boodskap dat vrouens wonderlik gemaak is.
“Ek is baie bevoorreg om genooi te kon wees,” het Taljaard vir HERAUT vertel.

“Dit was vreeslik lekker, die mense was gaaf en behulpsaam en dit was net lekker om ook met Suid Afrikaners en New Zealanders te kon meng daar.”
Taljaard het gedurende die besoek aan New Zealand vyf funksies in vier verskillende dorpe en stede aangebied.
“Ons het onder andere Auckland, Hamilton, Tauranga en Rotorua besoek met twee funksies in Tauranga,” sê Taljaard.
“Ek is dankbaar dat elke funksie uitverkoop is en daar steeds vroue was wat kaartjies gesoek het.”
Tydens die funksies het Taljaard as deel van Style Challenge International onder andere klerekas beplanning en makeovers gedoen en ook gefokus op die self-opheffing van die vroue.

Taljaard het ook haar dank uitgespreek teenoor almal wat ‘n bydrae gelewer het tot haar besoek aan New Zealand en die sukses daarvan.
“Daar het soveel reëlings in die beplanning in gegaan en al die organiseerders het dit net lekker gemaak. Dit was net lekker en ‘n wonderlike geleentheid.”
Taljaard meen dat sy ook baie nuwe mense leer ken het en dat Style Challenge International veral nuwe kliënte in New Zealand ryker is.



