Vrouedag deur `super vroue’ gevier
Die vroue het die oggend saam met Sandra Taljaard en haar span geniet.
Sandra Taljaard van Style Challenge International se Vrouedag damesoggend was ‘n groot sukses.
Die damesoggend, met die tema, Jy is ‘n Supervrou, het by die Hoër Volkskool Koshuis plaasgevind en is deur ‘n groot groep vroue bygwoon.
Adele Horn, van die Hoër Volkskool koshuis het die oggend georganiseer.
“Ek glo nie julle besef watter absolute super vroue julle is nie,” het Taljaard tydens die oggend aan die gaste gesê.
“Vroue het soveel ‘super powers’, ons is geduldig, optimisties, ons is lojaal, betroubaar en dan praat ons nog nie van ons fantastiese pyndrempel nie.

“Elkeen van ons gee elke dag die optrede van ons lewe om te doen wat ons moet doen, ongeag ons eie emosies.”
Die oggend het twee modeparades ingesluit, ‘n ligte ete en vermaak deur Coert Grobbelaar, die internasionaal bekende tenoor.
Tydens die oggend het Taljaard die vroue wenke vir beter selfvertroue, mode en ‘n opgedateerde klerekas gegee.
“Moet nie in die skaduwee in verdwyn nie,” was Taljaard se raad.

“Neem jou eie spasie op.”
Teen die einde van die oggend het Taljaard ook die vorige wenner van ‘n totale make-over, Hester Rossouw aan die gehoor onthul.
Rossouw, wat ‘n Graad Twee onderwyser van Springs is, se reis deur die make-over was ook gedeel.

“Dit het baie waagmoed gevat,” het Rossouw gesê.
“Maar dit was absoluut die moeite werd en ek is so dankbaar vir Sandra en haar span wat die pad saam met my gestap het.”

Verskeie pryse was ook tydens die oggend gewen, wat die volgende totale make-over deur Taljaard en haar span ook ingesluit het.
Ansie Levinson was die wenner van die volgende make over.





