Local news

Finansies plaas demper op jong Nigeliet se atletiekdroom

Claudeo Dick (19) wat in Nigel woon, hoop om volgende jaar by die Pratt Community College in Kansas, Amerika aan te sluit.

Claudeo Dick (19) van Nigel, wat verlede jaar aan die Hoërskool Zwartkop gematrikuleer het, het onlangs ‘n beurs gekry om atletiek te beoefen in Amerika.

“Ek het aan baie sportsoorte op skool deelgeneem maar in Graad Sewe het ek my passie vir hardloop ontdek deur landloop,” vertel Claudeo.

“Onder leiding van Elmien Engelbrecht van Arno’s Racers het ek my eerste jaar reeds die Gauteng Kampioenskappe bereik.”

Claudeo, wat in die Laer Volkskool was, het daardie jaar (2017) ook die titel as Landloop Seun van die Jaar by die skool gewen.

“Ek het toe deur Elmien Engelbrecht vir Oom Willie Engelbrecht ontmoet wat my gehelp het om by Hoërskool Zwartkop aan te sluit,” verduidelik Claudeo.

“Onder sy leiding het ek vinnig vooruit gegaan en het binnekort ook ‘n derde plek by die Gauteng-Noord kampioenskappe in die 800m behaal.”

Teen die tyd dat Claudeo in Graad 12 was (2022) het hy al verskeie prestasies agter sy naam gehad.
Hy het onder andere saam met die Hoërskool Zwartkop atletiekspan, as kaptein, die skool gehelp om ‘n tweede plek in die A-bond te verower.

Die skool is ook daardie jaar as die beste in middelafstand vir seuns en tweede beste vir meisies gekroon.

“Ek het daardie jaar die voorreg gehad om aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deel te neem en het ‘n silwermedalje in die 4 x 800m aflos gewen,” het hy verduidelik.

“Ek het nou die geleentheid om ‘n atletiekbeurs aan die Pratt Community College in Kansas in Amerika aan te neem.

“Finansies is egter ‘n probleem weens my ouers se werkloosheid deur die Covid-19-pandemie.

“As gevolg van die pandemie is hulle nou al drie jaar sonder werk en al het my ma sowat twee maande gelede eers weer werk gekry, verdien sy net genoeg om vir ons gesin van ses te sorg.

“Omdat die beurs slegs 65% van my skoolonkostes dek, en glad nie enige van die fondse wat ek sal benodig om in Amerika te kom nie, sal ek eers volgende jaar Augustus die beurs kan opneem.”

“My droom is om eendag die Suid-Afrikaanse Olimpiese span te haal en ek glo deur die Pratt Community College by te woon, sal ek een stap nader aan daardie doelwit kan kom,” sê Claudeo ter afsluiting.

Enige persoon wat met Claudeo in aanraking wil kom om te help met finansiële ondersteuning, kan sy ma, Jacqueline Dick by 071 199 8708 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button