Bezuidenhout groet lisensie kantoor na 27 jaar
Mede werkers en gemeenskapslede het 'n gesellige afskeidspartytjie gehou.
Susan Bezuidenhout het op 29 September haar laaste dag by die Nigel Lisensie Kantore geniet.
Mede werkers en gemeenskapslede het op 30 September vir Bezuidenhout ‘n afskeidspartytjie by Bossa in Nigel gehou.
“Ek was verbaas en aangenaam verras oor die mooi gebaar,” het Bezuidenhout gesê.
“Dit was vreeslik lekker en ek is so dankbaar vir elkeen van hulle.”
HERAUT het met Bezuidenhout gesels oor haar 27 jaar as administratiewe beampte by die kantore.
“Ek het destyds eers by twee ander plekke gewerk en was toe ook vir ‘n ruk ‘n huisvrou. Toe ek in 1996 daar begin het, was dit vir my absoluut ‘n werk wat oor my pad gestuur is.
“Ek is nog altyd lief vir mense en dit was vir my ‘n eer om met die publiek te werk en hulle te help met hul probleme.”
Bezuidenhout meen dat alhoewel die werk met tye stresvol was, het sy ook talle goeie tye by die werk deurgebring.
“Ek sal altyd onthou toe ons destyds nog kantore met die metro polisie gedeel het,” vertel sy.
“Veral toe daar ‘n varkie met die Laerskool Hannes Visagie se Biltongfees ontsnap het. Ons het almal so lekker gelag toe die boodskap oor die radio inkom dat die verkeersbeamptes die varkie moet gaan vang.”
Vir Bezuidenhout was die moeilikste tyd by die werk, die Covid-19 pandemie.
“Dit was so ongelooflik hartseer om soveel mense, wat ek leer ken het, aan die dood af te staan,” vertel sy.
“Dit was ook ‘n moeilike taak om hulle kinders te help om sake af te handel.”
Bezuidenhout meen dat sy haar mede werkers baie sal mis maar altyd die tye, goed of sleg, sal onthou.

“Ek wil vir my mede werkers baie dankie sê vir die afskeidspartytjie; hulle kan regtig ‘n geheim hou,” sê Bezuidenhout.
“Hou aan met julle harde, goeie werk en onthou om te glimlag.”
Sy sien nou uit om meer tyd saam haar familie en vriende te spandeer.
“Ek sal probeer rustig word en ek wil verseker meer tyd met Jesus spandeer want aan Hom gaan al die eer,” sê sy ter afsluiting.
“Dankie vir die mense van Nigel, wat my so gereeld ondersteun en bemoedig het. Dit was vir my ‘n eer en ‘n voorreg om die mense van Nigel te dien.”



