Die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging Veterane (SAWV) Eenheid Suikerbos se nuutste projek, Projek Dwergvalk is van stapel gestuur.
Die jeug lê vir twee lede van Eenheid Suikerbos, naamlik die onder-voorsitter Willem Pretorius en adjudant Hannes Louw na aan die hart.
Hierdie twee lede help skole en jeugorganisasies om belangstellende kinders meer te leer oor geestesgesondheid, geestelike onderwys, oorlewing, leierskap, veldkennis en vele meer.

Hulle het reeds twee kampe aangebied, waartydens die jong mense onder meer geleer is oor hoe om te oorleef.
Die kampe het in Parys en Pretoria plaasgevind en het lesings sowel as praktiese ondervinding behels.
“Om die kinders te leer is een ding, maar om te sien hoe hulle die kennis toepas is bevredigend,” het Pretorius gesê.
“Dit maak alles die moeite werd om te sien dat hulle nie terugstaan en wag dat goed gebeur nie maar self uitspring en hulle deel doen.”

Die lede van Eenheid Suikerbos se Projek Dwergvalk hoop dat die projek goeie momentum sal behou.
Die diens wat Projek Dwergvalk verskaf is aan al die skole en jeugorganisasies in die area. Die diens word gratis aangebied aan enige organisasie wat hulle hulp mag benodig.
Skakel Eenheid Suikerbos se voorsitter Frik van Niekerk by 079 220 5555 vir meer inligting.



