Local news

Vriende en familie neem afskeid van Juandré

Die gedenkdiens van Juandré Kleinhans (19) wat op 30 Desember in ‘n motorongeluk oorlede is, waar hy die passasier was, het op 12 Januarie by die Nederduits Hervormde Kerk, Heidelberg plaasgevind.

‘n Somber atmosfeer het in die stampvol kerk geheers en die eerste span rugbyspelers van Hoër Volkskool was geklee in hul eerste span truie.

Juandré, wat ‘n uitmuntende rugbyspeler was, se eie trui was voor in die kerk uitgestal ter nagedagtenis aan die besondere speler wat ‘n groot leemte in die gemeenskap van Heidelberg gelaat het.

Hy het verlede jaar aan die Hoër Volkskool gematrikuleer.

Juandré Kleinhans is op 30 Desember in ‘n motorongeluk oorlede.

Ds G Rocher wat die diens gelei het, het veral gepraat dat ‘n mens nie altyd kan verstaan waarom ‘n lewe op so ‘n jong ouderdom moet eindig nie, en almal herinner aan die woorde van Psalm 23: “Die Here is my Herder. Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.”

Vriende en familie het getuig van die diep spore wat Juandré in hul lewens gelaat het en dat elkeen se spoor dalk anders is.

Sommige spore is van lojaliteit, vriendskap, spanmaat, kind, broer of sussie.

Vriende, familie en spanmaats en belangstellendes het Vrydag afskeid geneem van Juandré Kleinhans.

Dat Juandré geliefd was in die gemeenskap, is tydens die diens bevestig.

“Hy het ‘n leemte op aarde gelos maar daar is ‘n fees in die hemel,” het Rocher tydens die diens gesê.

In ‘n huldeblyk in sy begrafnisbrief het die familie vir Juandré ‘n boodskap gelaat: “Jy het vir ons vreedsame herinneringe agtergelaat, jou liefde is nog steeds ons gids.”

Juandré Kleinhans se eerste span rugbytrui is voor in die kerk ten toon gestel tydens sy gedenkdiens.

Juandré se suster Luzaan het ‘n gedig voorgelees en sy vriendin, Meagan Thompson het getuig van Juandré se nederigheid, liefde vir mense, sy deursettingsvermoë in alles wat hy aangepak het en die impak wat hy op aarde gemaak het.

‘n Skyfievertoning van dié jong man se lewe en veral sy vernuf op die rugbyveld is ook gewys.

Na die diens het die eerste span rugbyspelers ‘n erewag gevorm en hul laaste eer bewys deur ballonne met boodskappe in die lug vry te laat met die woorde van die Hoër Volkskool se eerste rugby span se oorwinningslied aangepas na: “Asandria, Victorius, Juandré, White Tiger”.

Die Hoër Volkskool se eerste span het ‘n erewag gevorm om hul laaste eer aan Juandré Kleinhans te bewys, tydens sy gedenkdiens wat op 12 Januarie plaasgevind het.

Related Articles

Back to top button