HERAUT joernalis wat tyd en talent skenk word bederf
Eugene Viljoen het vele leerders gehelp om hul matriekafskeid in foto's vas te vang.
Die konsep van ‘om dit vooruit te betaal’, is wanneer ons vat wat ons het en dit aan iemand anders gee, sodat hulle kan baatvind sonder enige kostes daaraan verbonde.
Dit is ‘n eenvoudige idee, maar een met diepgaande waardering in ‘n gemeenskap.
Eugene Viljoen is ‘n joernalis vir HERAUT, maar sy rol in die Heidelberg gemeenskap gaan verder as dit. Behalwe vir sy liefde vir joernalistiek, is hy ook ‘n vryskut fotograaf en gebruik hy sy vrye tyd om spesiale herinneringe vas te vang.
Een van die herinneringe is ‘n matriekafskeid maar daar is leerders wie se ouers nie fotograwe kan bekostig nie.
Eugene het ‘n hart vir sy gemeenskap en het onlangs heelwat matriekafskeid foto’s geneem sonder enige vergoeding.

Hy verstaan die waarde wat geheg kan word aan ‘n foto en ‘n matriekafskeid is beslis een van daardie geleenthede wat deur ‘n kameralens vasgevang wil word.
Plaaslike styl- en voorkoms ikoon, Sandra Taljaard het besluit om die ‘vooruit betaal’ konsep op Eugene toe te pas en saam met ‘n professionele span wat vrywillig hulle dienste aangebied het, vir hom ‘n totale voorkoms verandering gegee.
Eugene is onlangs bederf met ‘n nuwe haarstyl en kleur, manikuur, massering en uitrustings wat sy oë en gelaatstrekke na vore bring.
Hy is behoorlik van kop tot tone gestileer en spog trots met sy nuwe voorkoms.
“Eugene het so baie van sy tyd en talent opgeoffer vir die matriekafskeid, teen geen vergoeding nie en om hom te bederf was ‘n absolute voorreg. Dankie Eugene vir jou mooi hart,” het Taljaard gesê.



