Local news

Matrikulant vervang spogmotor met ‘n bielie van ‘n bul vir afskeid

"DJ is baie mak en jy kan die liefde in sy oë sien."

Rael du Plessis van Hoërskool John Vorster het tradisie verruil vir uniekwees deurdat sy op 18 Oktober op die rug van ‘n massiewe Chianina bul by haar skool se matriekafskeid opgedaag het.

Rael het gesorg vir groot opskudding en het die aandag van elkeen op die skoolgronde getrek.

Die idee om eerder op ‘n bul as in ‘n spoggerige motor by die matriekafskeid op te daag was reeds in 2022 deur haar ma gekweek.

“Ek het gedink dit is baie uniek en het dadelik ingestem,” het Rael vertel.

Rael is in 2022 as die Suid-Afrikaanse Stadion Eventing kampioen gekroon tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Perdry Skolevereniging (SANESA) kampioenskappe en is dus heeltemal gemaklik oor hoe om ‘n saal op te sit.

Maar met haar matriekafskeid het sy heeltemal ‘n ander `perd’ opgesaal.

Die Chianina bul, DJ, is ongeveer 21 maande oud, baie mak en liefdevol en hou van drukkies en krappe op sy voorkop.

Rael du Plessis op DJ, die Chianina bul waarmee sy by die matriekafskeid opgedaag het. Foto: Grace In Action

LMB Chianina in Nigel is die eienaars van DJ en saam met Rael was hulle sedert Junie besig om hom voor te berei vir die groot dag.

“Jy kan die liefde in sy oë sien as jy vir hom kyk,” het Rael vertel en bygevoeg dat DJ kalm en elegant was en nie teruggestaan het vir ‘n fotogeleentheid nie.

Na aanloop van die matriekafskeid moes Rael ‘n paar keer vir DJ opsaal en met hom ry en sy het vertel van die een keer toe DJ geskrik het vir ‘n hond en sy afgeval het.

Rael du Plessis en DJ, die Chianina bul tydens Hoërskool John Vorster se matriekafskeid. Foto: Grace In Action

“Met die matriekafskeid was hy kalm en het soveel aandag geniet. Almal was eers effens stomgeslaan toe hulle ons opmerk maar kort daarna opgewonde saam met my,” het Rael gesê.

LMB Chianina het gesorg dat DJ vervoer word, dat hy eers rustig kon loop op die sportvelde voordat hy opgesaal is vir Rael en kon reg staan vir foto’s voordat hulle hom terug gevat het huis toe.

“Dit was beslis ‘n unieke ervaring vir my en een wat ek vir niks sal verruil nie,” het Rael genoem en afgesluit dat haar en DJ se matriekafskeid beslis een vir die boeke was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button