Die dorp se groot makietie is om die draai
Die makietie sal Sondag afgesluit word met die kruistog na die kruis toe.
Die Heidelberg Kwêla Makietie is om die draai en die gemeenskap maak reg vir ‘n groot fees.
Die makietie om die titel as Dorp van die jaar te vier op 1 en 2 November beloof ‘n naweek van groot pret vir oud en jonk.
Heidelberg Hoop, Lesedi Plaaslike Munisipaliteit, Heidelberg gemeenskap en vrywilligers werk hard om die dorp gereed te kry vir die fees van die jaar.

Daar gaan fees gevier word met bekende sangers, akteurs van bekende Afrikaanse sepies, ‘n pretpark, kinder speel area, lugballon ritte en talle opwindende kompetisies met groot pryse op die spel.
Die afgelope week het ‘n paar ekstra items op die program bygekom.
“Dit lyk of die weer in ons guns gaan wees om die lugballon ritte te realiseer,” het Nicolene Neveling, woordvoerder Heidelberg Hoop vertel. Kaartjies vir ‘n lugballon rit beloop R500 per persoon en sal Saterdag vanaf 15:00 plaasvind.
Vlugte is beperk en feesgangers moet wikkel om hul plek te bespreek.

VIP kaartjies vir Vrydagaand is nou beskikbaar teen ‘n ekstra R200 benewens die ingangsfooi en sluit ‘n geleentheid in om saam met die kunstenaar voor en na hul vertonings te kuier.
Daar is slegs 100 VIP kaartjies en die kaartjjies kan net op Webtickets gekoop word.
Saterdag se Pink Derby inskrywings verloop ook mooi en mense word uitgenooi om deel te neem of net te kom kyk hoe daar met hoë hakke teen mekaar gehardloop word.
Plaaslike besighede het mekaar uitgedaag om mee te ding en daar is tans ‘n groot geskater in die dorp soos wat verskeie mans oefen om in hakke te hardloop.

As jy dalk hakskoene in jou kas het wat jy nie gebruik nie, skenk dit gerus vir die derby.
Gaan laai dit af by die Helpende Hand winkel in die Heidelberg Forum gebou of by die Jordaanpark waghuis in Wesselsstraat.
Inskrywings vir die Groot Kwagga-berg burger eet kompetisie vorder ook goed.
Inskrywings kan op die webwerf makietie.heidelberghope.co.za gedoen word.
Nog ‘n ekstra item wat bygekom het vir Saterdag is die Western Race 4 Hope ten bate van Lesedi Community Centre (LCC).

Die wedloop is ‘n 10km of 40km bergfiets wedren of ‘n 5km of 10km stap. Inskrywings hiervoor kan ook by Webtickets gedoen word.
Vir die kinders wag daar ook groot vermaak met ‘n pretpark van verskeie ritte, laser tag sowel as ‘n veilige omheinde kinder area wat deur Pinkie Ponkie Kleuterskool beman sal word.
Die fees sal op November afgesluit word met ‘n kruistog na die Heidelberg koppie waar ‘n massa buitelig erediens gehou sal word.
Vir navrae oor die kruistog kan Quinten Schimper by 076 687 7410 gekontak word.
Moenie hierdie fees van die jaar misloop nie.
Kontak Nicolene Neveling by 072 840 0205 vir meer inligting of volg die sosiale media skakels van Heidelberg Hoop.




