Die Lente Besigheidsliga is die afgelope drie Donderdae by die Heidelberg Rolbalklub beslis.
Dit was ook die eerste keer dat die wedstryde op beide die rolbalbane gespeel is aangesien daar meer spanne betrokke was.
In die verlede was daar gewoonlik 12 spanne maar die gewilde liga het uitgebrei na 24 spanne.

Na die eerste week was nuwelinge, Jetour die voorlopers en het gesorg dat hul nie na die aanloop van die finaal van hul voorloper plek onttroon word nie.
Die wedywering vir die eerste drie plekke op die podium was baie sterk.
Op die laaste aand het elke span twee wedstryde gespeel en die wenners was aangekondig.

Jetour het koning gekraai met MMG Ford kort op hulle hakke in die tweede plek en Freestock derde.
Die voorste ‘toucher’ van die toernooi was Kallie van der Merwe van Agronamic.
Die geesbeker het ook ‘n nuwe tuiste met LTE Glass & Aluminium wat gewys het hoe daar gees gevang moet word.

“Die afgelope drie weke was werklik een om lank te onthou,” het Herman van der Merwe, Heidelberg Rolbalklub se vise-president gesê. Ons het meer spanne gehad en elke speler het hul deel gedoen om ‘n sukses te verseker.
Die volgende besigheidsliga toernooi vind plaas in Maart 2025.




