PRONTUIT: Wees ‘n baken van hoop sê eerste Mej Heidelberg Hope
Shané beplan om by die Outistiese Sentrum Heidelberg aan te klop om uit te vind wat hulle benodighede is en fondsinsamelings vir hulle te hou. Sy beplan ook om hulle gereeld te besoek en soms net tyd saam met hulle deur te bring.
Shané Maloney (20) is op 2 November as die eerste Mej Heidelberg Hope gekroon.
Die HERAUT het kort na haar kroning met die oud-Volkie, wat in haar finale jaar van haar BCom Bemarking graad is, gaan gesels.
Shané het haar selfvertroue op die verhoog gewys en vertel dat die titel vir haar beteken dat sy ‘n baken van hoop vir ander kan wees.
Sy het ook genoem sy het vir vyf jaar met bulimie gestruikel en het dit met God se genade oorkom.
Bulimie is ‘n eetversteuring wat gekenmerk word deur ‘n siklus van binge-eet gevolg deur kompenserende gedrag om gewigstoename te vermy, soos gedwonge braking, oormatige oefening, of die misbruik van lakseermiddels.
Mense met bulimie het dikwels ‘n sterk vrees om gewig op te tel en ‘n verwronge liggaamsbeeld, wat daartoe lei dat hulle betrokke raak by hierdie skadelike gedrag.
“Ek is deur God se genade genees en kon dit nie oorwin het sonder geloof nie. Dit het my verhouding met God versterk. Nou kan my lewe ‘n getuienis wees van wat Hy vir my kon doen sodat ander ook hoop kan hê wanneer iets onmoontlik voel want vir God is niks onmoontlik nie,” het Shané vertel.
Alhoewel Shané nie modelwerk doen nie en nog nooit voorheen skoonheidskompetisies gewen het nie, was sy wel hierdie jaar in die top 25 van Mej Suid-Afrika.
“My pa John Maloney van Steel Traders Heidelberg het my geïnspireer om in te skryf na ek die jaar in Mej Suid Afrika deelgeneem het
“Hy is my rolmodel as dit kom by `alles of niks’,” het Shané gesê.
Daar was vir elke finalis gevra watter liefdadigheidsorganisasie sy sal ondersteun indien sy as Mej Heidelberg gekroon word.
Shané het nie geskroom om dadelik te antwoord dat sy Heidelberg Outistiese Sentrum gaan ondersteun nie.
“Ek het ‘n familielid wat outisties is en glo dat outistiese kinders baie liefde nodig het en wil voel dat hulle ingesluit is,” het sy vertel.
Shané beplan om by die Outistiese Sentrum Heidelberg aan te klop om uit te vind wat hulle benodighede is en sal fondsinsamelings vir hulle te hou.
Sy beplan ook om hulle gereeld te besoek en soms net tyd saam met hulle deur te bring.
Volgens Shané is die grootste uitdaging om mense te kry wat wil deel vorm van Heidelberg projekte.
“Daar is net ‘n paar wat werklik tyd en moeite opoffer vir ons dorp.
“Ek sal graag meer projekte wil aanpak, by die dorp uitvind wat hulle sal wil sien as verandering en dan kyk hoe ons almal kan kry as span te werk om daardie projekte te verrig,” het sy gesê.
Een van die projekte wat Shané as deel van Mej Hope se finaliste aangepak het was om die borde van Heidelberg oor te plak en om die bakoond parkie skoon te maak.
Die projek waarop sy die trotse is, is waar sy met jong dames en hoërskool meisies ‘n een-tot-een konsultasie gehad het.
“Dit was vir my ‘n voorreg om saam hulle te bid en bystand te bied vir uitdagings waarmee hulle worstel.”
Haar toekomsplanne vir gemeenskapsdiens is om as ‘n voorbeeld te leef vir ander sodat hulle later ook sal inval.

“Ek sal oor vyf jaar ‘n groter span bymekaar wil hê wat saam werk in gemeenskap projekte,” het sy gesê.
Shané se boodskap aan jong meisies wat betrokke wil raak by gemeenskapsdiens is om net te begin want van uitstel kom afstel.
Shané het reeds planne om met ‘n projek te begin waar sy op die jeug kan fokus. Om hulle te bemagtig om ‘n verskil te maak en te wees en sy hoop dat die skole en besighede haar sal ondersteun.
“Ek wil die jeug voorstel aan plaaslike besighede om hulle deel te laat vorm van die gemeenskap,” het Shané vertel.
Die titel van die projek sal ‘When identity meets purpose’ wees.
Shané sien uit om ‘n groot verskil te maak tydens haar jaar as Mej Heidelberg Hope, maar in haar oë moet dit ‘n blywende verskil wees.
“‘When identity meets purpose’ beskryf ‘n diepgaande verband tussen verstaan wie jy is en weet wat jy bedoel is om te doen. Wanneer iemand se vaardighede, passies, waardes en oortuigings bymekaarkom in hul aksies en doelwitte, weerspieël dit ‘n harmonieuse balans.
“Dit sal lei tot my eie persoonlike groei en ook tot betekenisvolle gemeenskapswerk,” het sy afgesluit.
Shané vier op 17 November haar 21ste verjaarsdag. Sy is in haar finale jaar van haar studies en is klaar gereed om haar projekte as Mej Heidelberg Hope te begin.



