Dinamiese vroue sorg vir sukses in alles wat hulle aanpak
Sandra, is 'n leidende figuur in die Heidelberg gemeenskap, en is betrokke by die ATKV, FAK (Federesaie vir Afrikaans en kultuur), Helpende Hand, VLU, East Rand Women in Business en is ook lid van AICI (Association of Image Consultants International).
Sandra Taljaard en Ashleigh Labuschagne van Style Challenge International is ‘n dinamiese span wie se hande vir niks terugstaan nie en hulle maak seker alles wat hulle aanpak, is ‘n sukses.
Sandra en Ashleigh is nie net bekend vir hul persoonlike projekte nie, maar ook vir hul merkwaardige betrokkenheid by verskeie organisasies en die suksesvolle reël van geleenthede.
Die span was tydens die onlangse Heidelberg Kwêla Makietie die breinkrag agter Mej Heidelberg Hope, die Rommelrevolusie, die Pink Hope Derby, saam met die ATKV Dinosourusse kan nie lees nie en het ook saam met Lizelle Grobler die VIP tent behartig.
Sandra en Ashleigh het slegs twee maande gehad om alles te reël en daar is behoorlik geswoeg en gesweet en selfs deurnag gewerk om die sukses van hul makietie verantwoordelikhede te verseker asook om die groot pryse waarmee die wenners kon wegstap te kon reël.
Sandra, is ‘n leidende figuur in die Heidelberg gemeenskap, en is betrokke by die ATKV, FAK (Federesaie vir Afrikaans en Kultuur), Solidariteit Helpende Hand, VLU, East Rand Women in Business en is ook lid van AICI (Association of Image Consultants International).
Ashleigh altyd aan Sandra se sy en gereed om haar deel te doen vir enigiets wat deur Sandra of Style Challenge International aangepak word. Sy is vir die afgelope drie jaar Sandra se regterhand as die uitvoerende operasionele hoof en speel ‘n sleutelrol in al die operasionele reëlings nodig vir enige projek.
Ashleigh se kreatiwiteit en vermoë om groot gebeurtenisse naatloos te koördineer, maak haar ‘n onontbeerlike deel van Sandra se span.
Sandra se liefde vir gemeenskapsdiens en haar organisasievaardighede maak dat elke projek slaag wat hulle saam aanpak.
“Ons is gesinkroniseer met mekaar. Ashleigh is my regterhand en weet presies hoe om vinnig en effektief enige krisis te hanteer indien daar een is,” het Sandra vertel.
Die span se sukses kom nie net van hul kennis nie, maar ook van hul vermoë om harde werk en liefde in alles te sit wat hulle doen.
“Moet nooit dink dat jy iets nie kan doen nie,” het Sandra gesê en bygevoeg sy is dankbaar is vir elke geleentheid wat na haar kant toe kom.
“Al is dit soms ‘n harde pad om tot by die eindpunt te kom; ek weet my hemelse Vader is saam met my in alles en daarvoor is ek die meeste dankbaar,” het sy gesê.
Ashleigh se leuse is: “Wanneer jy daaraan dink om op te gee, moet nie want sukses is net om die draai.”
“Niks is onmoontlik nie as jy vashou aan wat jy glo,” het Ashleigh bygevoeg.
Die twee vroue se sukses en veelsydigheid is die gevolg van hul vermoë om elke taak met oorgawe en deeglike beplanning aan te pak.
Hulle is tans besig om die Ons Winkel kongres te reël wat op 20 November in Pretoria sal plaasvind.
Saam met die uitvoerende hoof van Ons Winkels, Johan Nel, sal daar handleidings en insiggewende inligting gedeel word hoe om ‘n Ons Winkel van die been af te kry en te sorg vir die sukses daarvan.




