Dylan Bothma se lewe word herdenk, familie steeds in duister oor sy dood
Die familie het na amper 18 maande steeds nie antwoorde oor wat presies met Dylan gebeur het en oor die gebeure wat tot sy dood gelei het nie.
Familie en vriende van Dylan Bothma, wat op 15 November sy 20ste verjaarsdag sou vier, het op 16 November bymekaargekom om die jong man se lewe te herdenk.
Talle mense het ‘n vreedsame optog meegemaak deur die strate wat sy lewe geëis het.
Bothma is op 25 Junie 2023 oorlede nadat ‘n 16de verjaarsdagpartytjie wat hy op 24 Junie bygewoon het, skeefgeloop het.
Die HERAUT het in Junie 2023 berig oor die voorval wat Dylan se lewe geëis het (Ongeluk eis ons ‘sonskynkind’) en het in Julie, ‘n jaar na sy dood, weer berig oor Dylan se familie wat steeds nie antwoorde het oor wat presies na sy dood gelei het nie (Dylan Bothma se familie soek steeds antwoorde).

Dit nadat Dylan se storie deur die Carte Blanche span ondersoek is en uitgesaai was.
Geliefdes het op die hoek van AG Visserstraat en die R23, min of meer waar Dylan in die pad gelê het, bymekaargekom.
Ballonne met boodskappe was oral te sien en mense kon ook vir Dylan ‘n boodskap skryf wat later by sy gedenkkruis geplaas sou word.

In T-hempde en baniere waarop ‘Geregtigheid vir Dylan’ geskryf is, het die groep geloop vanaf AG Visserstraat na die huis in Verdoornstraat waar die 16de verjaarsdag partytjie plaasgevind het.
Voor die huis, het sy ma, Elsie die hartverskeurende verhaal gedeel van hoe haar kind by die partytjie afgelaai is en die moontlike gebeure daarna tot hy die volgende oggend oorlede is.
“Dit is nie hoe ek my kind se verjaarsdag wil vier nie,” het ‘n emosionele Elsie gesê.

“Hy was ons sonskynkind en was so wreed vanaf ons weggevat,” het sy bygevoeg.
Die optog is van daar terug na AG Visserstraat na die kruis wat ter herdenking van sy lewe opgerig is en elkeen kon ‘n geleentheid kry om by die kruis vir hom blomme neer te sit.
Voor die kranslegging, het Van Zyl Schultz wat namens die familie gepraat het, ‘n pleidooi gelewer vir enigeen wat iets kan onthou of weet wat daardie aand met Dylan gebeur het, om na vore te kom.
“Die familie het na amper 18 maande steeds nie antwoorde oor wat presies met Dylan gebeur het en wat tot sy dood gelei het nie. Hulle is in ‘n toestand van voortdurende hartseer en onsekerheid,” het Schultz gesê.

“Elke dag is ‘n stryd om antwoorde te kry oor wat met hul geliefde seun gebeur het.
“Foto’s van Dylan is oral; ‘n konstante herinnering aan die leemte wat hy gelaat het,” het Schultz gesê en bygevoeg dat die ouers gemengde gevoelens het van woede, hartseer en frustrasie.
“Hulle het elke moontlike bron geraadpleeg, van die polisie tot privaat ondersoekers, maar steeds bly die antwoorde duister.”

“Die Bothma familie se lewens is onherroeplik verander, en weens ‘n gebrek aan antwoorde is dit vir hulle moeilik om enige vorm van afsluiting te kry,” het Schultz bygevoeg.
Hy het daarna ‘n gebed gedoen en Dylan se ma, Elsie het ‘n naaldboom by die kruis, wat vir Dylan opgerig is, geplant.
Naaldbome is bekend vir hul vermoë om altyd groen te bly, en word beskou as ‘n perfekte metafoor vir liefde wat nooit verflou nie.

“Ons sal jou nooit vergeet nie my kind. Ons is so lief vir jou. Ons harte is stukkend en ons mis jou elke dag,” het Elsie gesê terwyl trane van haar wange gerol het.
Die polisie ondersoek duur voort.



