Prontuit: Inwoner (81) deel haar grootword jare in Nigel
Annetjie is ook ‘n kreatiewe persoon en geniet dit om naaldwerk te doen, gaste te onthaal en tuin te maak. Dit is juis hoekom sy ‘n groot liefde het vir die VLU.
Die HERAUT leer ons mense ken en het die week meer gaan uitvind oor Annetjie Lehman, ‘n formidabele vrou wat bekend is onder almal in die gemeenskap.
Annetjie is in 1943 in Nigel gebore en het gematrikuleer aan Nigel Hoërskool (vandag John Vorster) met Mnr Spruit as skoolhoof. Hy het ook vir haar tennis afrigting gegee.
Na skool het sy gaan leer hoe om met Burrough masjiene (boekhou masjiene) te werk.
Sy is ‘n gesiene vrou wat op 81 jarige ouderdom nie terugstaan vir enige uitdaging nie.
Haar toewyding, van die grootmaak van haar kinders tot die ondersteuning van haar gemeenskap deur dik en dun, haar onwrikbare gees en liefde vir haar medemens is van die kenmerke wat haar laat uitstaan.
Sy het in 1941 met die liefde van haar lewe, Jan Lehman getrou en beskryf hom as die wonderlikste man, pa en oupa. Jan is in 2021 oorlede.
Annetjie se trots is haar twee pragtige dogters en drie kleinkinders, almal dogters.
“Hulle is my hart se punt en hou my jonk,” het Annetjie gesê.
Sy het vertel tydens haar grootword jare was Nigel ’n klein myndorpie.
Die sirkus het altyd tent opgeslaan waar die stadsaal nou is en sy onthou nog Levanos se kafee wat die plaaslike kafee in die hoofstraat was.
“Almal in Nigel het mekaar geken en gehelp. Dit is wonderlik om te sien hoe Nigel oor die jare ontwikkel het,” het sy gesê.
Jan en Annetjie was in 1990 tot 1991 die burgemeesterspaar in Nigel., Sy vertel hoe hulle groot, suksesvolle kooraande gereël het met agt verskillende kore asook ‘n gesamentlike kerkdiens vir al die kerke in Nigel met 32 burgemeesterspare as gaste en ‘n volgepakte stadsaal.
“Dit was vir ons ’n voorreg om vir die dorp te kon werk,” het Annetjie vertel.
Annetjie is ook ‘n kreatiewe persoon en geniet dit om naaldwerk te doen, gaste te onthaal en tuin te maak. Dit is juis hoekom sy ‘n groot liefde het vir die VLU.
Jan en Annetjie het vir vier jaar in Roossenekal in Limpopo provinsie gewoon.
“Daar was ’n behoefte onder die vrouens in daardie omgewing om van tyd-tot-tyd bymekaar te kom en lekker te kuier. Ek het ongeveer 55 jaar terug daar ’n VLU tak met 18 lede begin,” het sy gesê.
Terug in Nigel het sy aangesluit by die VLU tak in Nigel en was vir baie jare ook die voorsitter by die tak.
“Die VLU is ’n plek waar vrouens kan kuier, na mekaar kan luister en ondersteun.
Die VLU bemagtig en verryk vrouens. Dit is inspirerend, opvoedkundig en avontuurlik. Ons kan heerlik kreatief wees en net ontspan,” was haar getuienis oor die organisasie.
Annetjie is nog jonk van gees en sal graag saam met haar kleinkinders wil reis. Sy wil by Donald Trump in die Withuis gaan kuier.
Sy onthaal steeds, geniet naaldwerk en tuin maak, maar sê sy doen dit nou net stadiger.
Annetjie is ‘n toonbeeld van gasvryheid en liefde vir haar gemeenskap en het afgesluit met ‘n boodskap: “As ons God in ons lewe eerste stel, sal alles in plek val. Respek is altyd belangrik – respek vir mekaar, respek vir mense se eiendom en respek vir mense se tyd.”



