Prontuit: Kreatiewe Zandri draai koppe en harte in salon
Haar boodskap aan die gemeenskap is om nooit toe te laat dat die wêreld jou glimlag verander nie.
Die HERAUT leer ons gemeenskap ken en het die week met Zandri Strauss gesels.
Zandri is ‘n gekwalifiseerde haarkapper in Heidelberg wie se kreatiwiteit geen perke ken nie.
Sy is getroud met Dwane Strauss en hul seun, Zane het onlangs sy sesde verjaarsdag gevier.
Die gesin woon in Heidelberg en volgens Zandri bly hulle in die beste buurt ooit.
‘n Gemeenskap wat in dieselfde straat bly en mekaar in alles bystaan, is hoe sy dit beskryf.
Daar is meer aan Zandri as net haar buitengewone vaardighede.
Sy dra ‘n diep gevoel van doel en geloof saam met haar. Terwyl sy werk, deel sy boodskappe van hoop, liefde en geloof, en verweef dit naatloos in haar gesprekke met kliënte.
Sy is ‘n baken van positiwiteit, altyd gereed om ‘n oor te gee en woorde van bemoediging te bied. Haar kliënte vertrek nie net met wonderlike nuwe haarstyle nie, maar ook met opgewekte geeste en ‘n hernieude gevoel van geloof.
“Ek geniet my werk. Ek kan mense mooimaak en saam met hulle koffie drink en oor alles gesels, alhoewel ek weet, ek praat soms baie,” het Zandri vertel.
In haar salon kan jy haar hoor praat oor die skoonheid van die skepping, die krag wat in geloof gevind word, of die krag van vriendelikheid.
Sy gebruik haar platform nie net om mense goed te laat lyk nie, maar om ook goed te voel, om die woord van God te versprei op ‘n manier wat natuurlik en inspirerend voel.
Zandri vertel dat sy die Here al van kleins af ken maar eers ‘n paar jaar gelede besef het hoe nodig dit is om ‘n verhouding met Hom te hê.
Sy en haar gesin het by die AGS Kairos gemeente in Heidelberg aangesluit waar sy wonderlike mense ontmoet het.
“Daar is soveel wonderlike mense wat my geleer het hoe om ‘n verhouding met die Here te hê en om te besef hoe lief Hy vir my en vir almal om my is. Met tyd het ons ook betrokke geraak by die kerk.
Zandri wat in Hartebeespoort grootgeword se hart lê in Heidelberg en alhoewel sy eers verbaas was dat Heidelberg die Dorp van die Jaar is, het sy genoem dat die titel beslis die gemeenskap kameradie en onbaatsugtige bystand vir mekaar weerspieël.
Zandri doen ook haar deel vir die gemeenskap en deel gereeld van haar eie bome wat in haar erf groei se vrugte uit. Sy het vertel dat dit alles ‘n geloofsgehoorsaamheid is.
“Ons het so sewe jaar gelede ons eerste perskeboom geplant en nou het ons growwe en gladde perskebome wat elke jaar baie vrugte dra.
Die eerste twee jaar het ons klein en min vrugte gekry en nadat ek en my man navorsing gaan doen het, het ons die antwoord in die Bybel gekry wat sê jy moet jou eerste oes altyd vir die Here gee met ‘n mooi hart dan sal jy goeie vrugte dra.
Ek het die eerste oes van die bome geskenk en gebid dat die Here ons bome sal seën.
Die volgende seisoen het die bome soveel vrugte gedra dat van die takke gebuig het van te veel vrugte op die stam,” het sy vertel.
Vir die Strauss gesin was dit beslis ‘n wonderwerk en van daar af dra die bome elke jaar goeie vrugte en skenk hulle sakke vol vrugte vir hul bure, kerke, skole en enigeen wat vra.
Zandri se haarsalon is ‘n toevlugsoord waar kliënte beide fisiese en geestelike verjonging vind.
Haar boodskap aan die gemeenskap is om nooit toe te laat dat die wêreld jou glimlag verander nie.
Laat jou glimlag eerder die wêreld verander. Wees dankbaar vir wat jy het, en as jy baie het, deel met jou naaste.



